Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitnodiging vir Kommentaar: US Beleid oor Universele Toegang
Outeur: Dr MM Lyner-Cleophas
Gepubliseer: 25/04/2017

Aan:     Alle personeel en studente

Uitnodiging vir kommentaar as deel van die hersiening van die gestremdheidsbeleid by die Universiteit Stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch (US) hersien tans sy bestaande beleid oor studente met gestremdhede. Met hierdie hersiening volg ons 'n universele benadering tot gestremdheid, wat inklusief is en alle persone wat kampusdienste gebruik, in ag neem, op en buite die kampus. Ons beskou die strewe na gestremdheids-inklusiwiteit as deel van die regte van mense, sowel as deurslaggewend tot die transformasie-agenda van Suid-Afrika en die US. Daarom het die behoefte om nie net die studente met gestremdhede in ag te neem nie, maar alle persone op kampus, duideliker geword. Trouens, indien die gebrek aan toegang in 'n gebou, byvoorbeeld, 'n probleem is vir 'n student in 'n rolstoel, sal dit net so groot probleem vir 'n personeellid in 'n rolstoel, of 'n besoeker op kampus, wees.

Die behoefte vir herstel met betrekking tot gestremdhede is duidelik in onder andere die SA Grondwet (1996), die Wet op Gelyke Indiensneming (1998), die Suid-Afrikaanse Skolewet (1996), Wet op Hoër Onderwys (1997) en die Nasionale Plan vir Hoër Onderwys (2000). Uit die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se 2017-verslag blyk dit egter dat meeste skendings van menseregte steeds aan ras, etniese of sosiale oorsprong, en gestremdhede gekoppel is.

Die marginalisasie van mense met gestremdhede is soortgelyk aan die segregasie wat ervaar word as gevolg van ras- en linguistiese skeidings, wat sosiale konstruksies is. Soos ons streef daarna om 'n menigte hindernisse in ons omgewings en ons land af te breek, is hierdie soeke dieselfde wanneer dit oor gestremdhede gaan.

Ons strewe met die Beleid oor Universele Toegang is om te verseker dat ons alle aspekte van 'n persoon se funksionering op kampus, in elke departement, dek, sodat ons planne in plek kan stel om gestremdheid op 'n holistiese en werklik inklusiewe wyse aan te spreek.

Ons nooi u uit om die US se konsepbeleid oor Universele Toegang in PDF of Word formaat te lees en kommentaar daaroor te lewer. U kan u kommentaar aan enige van die onderstaande adresse stuur.

E-pos: disability@sun.ac.za

Posadres: Universiteit Stellenbosch, Privaat Sak X1, Matieland, 7602 (Vir aandag: Dr MM Lyner-Cleophas, Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling).

Die sluitingsdatum vir kommentaar is 15 Mei 2017.

Navrae: Mev Melanie Willems by 021 808 4707

Met groot waardering

Taakspan: US se Beleid oor Universele Toegang