Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US navorsers wil samewerking met Afrika-lande bevorder
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 19/04/2017

Minder bekende gewasse soos sorghum en manna, en die impak van indringeronkruid op bestaansboere in Nigirië, is twee van die onderwerpe wat navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) gaan ondersoek as deel van 'n navorsingsbesoek wat deur die US se Sentrum vir Samewerking in Afrika en die Internasionale Wetenskapstigting (IFS) ondersteun word.

Dr Ethel Phiri en Dr Natasha Phiri, nadoktororale genote in die US se departemente genetika en plant- en dierkunde, is op besoek aan Lagos Universiteit vanaf 17 tot 22 April 2017. Gedurende hierdie tydperk sal hulle beide seminare aanbied, terwyl Dr Mothapo 'n navorsingsprojek oor bestaansboere se persepsie en gebruik van minder bekende gewasse sal afhandel.

Hulle sal ook ontvang word deur prof. Linus Opara, houer van die SARChI navorsingsleerstoel in na-oes tegnologie by die US en tans op sabbatsverlof in Nigirië.

Hulle hoofdoelwit is om nuwe netwerk met universiteite in Afrika se vestig ten einde die Afrika navorsingsagenda te versterk: "Jong en opkomende ontluikende Suid-Afrikaanse navorsers soos ons het 'n direkte belang in Afrika-navorsing en ons wil graag ons navorsing op die kontinent se probleme fokus," meen hulle.

As span-koördineerder van 'n projek wat deur die IFS ondersteun word, sal Dr Mothapo ook die geleentheid gebruik om 'n meningsopname onder bestaansboere te doen oor die sosio-ekonomiese impak van 'n indringeronkruid.

Sy verduidelik: "Boere beskou sommige indringerplante as voordelig omdat hulle glo dat dit die grond se vrugbaarheid verbeter. Maar meestal beskadig hierdie onkruide die gewasse en verminder dit die opbrengste. Hierdie wanpersepsies beperk ook bestuursplanne om indringerplante te bekamp.

"Ons sal ook met die boere gesels oor hoe hulle minder bekende gewasse soos sorghum en boermanna gebruik. Terwyl die hoofgewasse soos mielies, koring en rys wêreldwye produksie oorheers, het hierdie minder bekende gewasse die potensiaal om ekonomies en agronomies van groot belang te word in ontwikkelende lande en om voedselsekuriteit te midde van klimaatsverandering te verseker."

In Sub-Sahara Afrika, byvoorbeeld, word gewasse soos sorghum en manna eerder as rys en koring verbou. Maar omdat daar nie internasionaal in hierdie gewasse handel gedryf word nie, het hulle tradisioneel minder aandag in terme van navorsing en opleiding geniet.

"Ons is die generasie van navorsers wat op Afrika se probleme moet fokus," beaam Dr Phiri.