Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
BASK spoor studente aan om deel van ’n opwindende BA-week te wees
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 24/04/2017

Dit is weer tyd vir die jaarlikse BA-week wat die BA Studentekomitee (BASK) van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe van 24 tot 28 April aanbied en waartydens studente deur 'n reeks prettige, interessante en informatiewe aktiwiteite kan agter kom wat in die sosiale wetenskappe aangaan.

Masixole Ndamandama, die BASK-lid vir Bemarking en Werwing, sê die BA-week is bedoel om wisselwerking tussen fakulteitstudente en die groter Universiteit Stellenbosch oor die kurrikulêre aanbod in die lettere en sosiale wetenskappe te verkry. Dit bied die geleentheid vir gesprekke oor aktuele onderwerpe wat die samelewing raak en skep 'n platform waar ander studente die talente van BA-studente uit die musiek-, visuelekunste- en dramaomgewings kan geniet.

Die tema vir vanjaar se BA-week is "Breek Grense" (
Breaking Barriers).

BASK staan reg met 'n hele reeks geleenthede waaronder 'n bespreking van
The Coloured Identity met 'n paneel bestaande uit dr Riaan Oppelt, 'n dosent in Engels en Kulturele Studies by US se Departement Engels; me Diana Ferrus, 'n administrateur aan die Universiteit van die Wes-Kaap, wat as digter en skrywer bekendheid verwerf het met haar gedig oor die Khoi-San-vrou Saartjie Baartman – wie se oorskot tot in 1986 in Parys ten toon gestel is; asook me Leza Soldaat, 'n meestersgraadstudent in Sosiologie by die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie aan die US. Die bespreking vind om 18:30 op 25 April by die US Museum in Ryneveldstraat plaas en word gevolg deur 'n vertoning van The Coloured Mentality, 'n plaaslik vervaardigde webreeks wat die soeklig op die bruin belewenis in Suid-Afrika laat val.

Die week begin om 10:00, Maandagoggend 24 April, op 'n vrolike noot wanneer die BASK sommer met die intrapslag kolwyntjies en die week se program by die BA-gebou se ingang (langs die voordeur wat na die tweede verdieping van die gebou lei) aan studente sal uitdeel.

Ander geleenthede en aktiwiteite wat deur die week plaasvind, sluit in:

  • 'n Vertoning van die rolprent Dead Poets Society om 18:30 op Maandag, 24 April, by die Pulp Cinema in die Neelsie Studentesentrum
  • 'n Kontemporêredansvertoning om 13:00 op Dinsdag, 25 April, in die Endlersaal by die Konserwatorium
  • Die nuwe BA-hoodie word om 10:00 op Woensdag, 26 April, by die BASK-kantoor op die 2de verdieping van die BA-gebou bekend gestel, wat beteken studente kan hulle hoodies betyds vir die winter bestel.
  • 'n Markdag word om 10:00 op Vrydag, 28 April, by die ingang na die BA-gebou gehou. Studente gaan geurige eetgoed aan die res van die kampus en die publiek by dié mark verkoop. Vrydag kry studente ook die geleentheid om tussen 13:00 en 14:00 'n gratis etenstyd-jazzkonsert in die Endlersaal by die Konservatorium te geniet.

Alhoewel die BASK 'n hele reeks opwindende aktiwiteite aanbied waaraan BA-studente heeljaar kan deelneem, is die Komitee hoofsaaklik verantwoordelik vir studentebystand met akademiese aangeleenthede wat nie deur die gewone prosedurekanale in die fakulteit opgelos kon word nie; taalkwessies wat studente tydens hulle studies ervaar; of probleme om deur die loop van die jaar die vereiste slaagsyfer te behaal en die eksamen te kan aflê. Studente wat hulp benodig, kan tussen 08:00 en 13:00 besoek aflê by die BASK se kantoor op die 2de verdieping van die BA-gebou (by die ingang van die gebou in, met die eerste stel trappe op tot bo), óf hulle kan 'n e-pos aan bask@sun.ac.za stuur.

Ndamandama verduidelik dat alhoewel soortgelyke interaktiewe weke in die verlede met 'n galageleentheid vir studente afgesluit is, die huidige BASK besluit het om die deftige bal uit te stel en 'n minder formele en goedkoper opsie daarvoor te vind.

Alec Poole het die bemarkingsmateriaal vir die BA-week ontwerp en vervaardig.

Al die geleenthede is gratis en alle studente, sowel as belangstellende lede van die publiek, kan dit bywoon. Vir verdere besonderhede tree asseblief met die BASK in verbinding by bask@sun.ac.za of via Facebook (www.facebook.com/basc:bastudentcommittee). Jy kan die BASK ook kontak via die Twittergebruiksnaam @bask_su.