Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nederlaag blus nie ondersteuners se passie nie
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 19/04/2017

Hul doel was om uit te staan, maar hulle sou nooit kon voorspel dat hul geesdrif by FNB Maties se Varsitybeker-wedstryde soveel aandag sou trek nie.

Dit het daartoe gelei dat die Maties-ondersteuners Yaasiem Daniels (28) en Elbré van Rhyn (24), albei Teologie-studente aan die Universiteit Stellenbosch, saam met mede-Stellenbossers Sydney Pienaar (22), Dudley McKelly (27) en Danfred Nel (27) geborg is om Pretoria toe te gaan om hul span in die Varsitybeker-eindstryd teen FNB UP-Tuks te ondersteun.

Maties Rugby, Steers en Steinhoff het dit vir hulle moontlik gemaak.

Met hul gekleurde pruike en onuitputlike energie het hierdie vyf ondersteuners al Maties se tuiswedstryde, sowel as die wedstyd teen Ikeys in Kaapstad en die Maties Young Guns se finaal teen Tuks wat verlede Maandag by UWK plaasgevind het, bygewoon. Hulle is ook aangewys as Maties Sport se #MatiesMVF's (most valued fans).

Hulle is deel van 'n groter groep van tussen 15 en 20 mense wat nie net gereeld tydens wedstryde op plaaslike TV-kanale verskyn het nie, maar ook in 'n paar internasionale besoekers se video's pryk.

"Ons is internasionaal bekend," grap hulle. Maar oor rugby grap hul nie.

"Ons bloed is maroen," sê hulle. "Ons staan saam met die manne. Ons het saam met hulle uitgedraf, saam met hulle gespeel en saam met hulle verloor. Hulle seer is ons seer.

"Ons is natuurlik 'n bietjie teleurgesteld oor die uitslag, maar ons ondersteun hulle nog 100%."

Hulle beplan om deur die res van die jaar ook ander sportkodes te ondersteun.

Die groep het 'n hele arsenaal liedjies en hulle oefen dit gereeld wanneer hulle saam braai en hulself vir 'n volgende wedstryd voorberei.

Die vyf uitverkorenes het voor die wedstryd gesê hulle is só opgewonde oor die geleentheid.

"Dit was ongelooflik. Ons is baie dankbaar teenoor die borge."

Dit was Daniels en Nel se eerste besoek aan Pretoria.

Craig Barry, kaptein van Maties se span, het gesê dis baie spesiaal om te weet daar is sulke ongelooflike ondersteuners.

"Dit inspireer ons as spelers beslis wanneer ons hulle hoor, en glo my, ons hoor hulle. Die manne loop oor van entoesiasme en positiwiteit. Dit is geen geheim dat die vol Danie Craven-stadion 'n groot rol in ons sukses gespeel het nie, so om 'n stukkie daarvan te kon saamvat, was wonderlik. Daar is geen twyfel nie dat Maties die beste ondersteuners het nie."

Volgens Quintin van Rooyen, Sportbestuurder: Maties Rugby, het die groep se passie hulle beïndruk.

"Die res van die groep het die wedstryd in die ondersteunerspark in die Neelsie gekyk," het hy gesê