Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Elvira Rohland
Etiek-administrateur neem aan gesogte program deel
Outeur: Carine Visagie
Gepubliseer: 18/04/2017

Elvira Rohland, Senior Etiekadministrateur in Gesondheidsnavorsing by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), het pas teruggekeer uit die VSA. Hier het sy aan die Institusionele Beoordelingsraad van die Nasionale Instituut van Gesondheid van Amerika (NIG) se internskapprogram deelgeneem.

Die uitsonderlike program word slegs een keer per jaar aan ‘n uitgelese groep deelnemers aangebied. Van 28 Augustus tot 29 Desember 2016, was Rohland bevoorreg genoeg om by die program aan te sluit. Dr Nicola Barsdorf, die FGGW se Hoof van Navorsingsetiek-administrasie, het gereken dat Rohland – wat oor omvangryke kennis oor navorsingsetiek beskik – die ideale kandidaat vir die internskapprogram sou wees en het haar aangemoedig om aansoek te doen.

Die NIG se Departement van Bio-etiek is een van Amerika se voorste sentrums vir bio-etiese opleiding, met personeel wat uit bio-etici en filosowe bestaan. Opleiding is op toekomstige bio-etici, asook biomediese navorsers en klinici, gemik. Die Department verskaf ook hoë-gehalte konsultasiedienste.

Deur aan die internskapprogram deel te neem, het Rohland gehoop om haar kennis oor die regulatoriese navorsingsomgewing in Amerika te verbreed. Hierdie inligting is van toepassing op die internasionale navorsingstudies wat by die US se Etiekkomitee vir Gesondheidsnavorsing ingedien word. As deel van haar rol by die universiteit, verwerk Rohland al die plaaslike en internasionale navorsingsaansoeke wat menslike deelnemers insluit.

“Ek wou graag kursuswerk doen, asook werkswinkels en seminare bywoon om my kennis te verbreed,” sê Rohland. “Ek het veral daarin belanggestel om meer oor rampspoedige gebeure tydens navorsingstudies te leer, en hoe om daaroor verslag te doen. Dit sluit in die dringendheid waarmee sekere rampspoedige gebeure of nadelige uitwerkings nagegaan moet word, asook of hierdie gebeure betyds aangemeld is.”

Rohland het, soos sy gehoop het, waardevolle kennis oor hierdie onderwerpe ingewin. Sy het ook meer geleer oor die sisteme en prosesse wat gebruik word om menslike studiedeelnemers te beskerm, en suksesvol ‘n navorsingskursus in hierdie veld voltooi.

Rohland sien daarna uit om hierdie waardevolle nuwe kennis in haar werk by Universiteit Stellenbosch toe te pas. In die proses, maak die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe ook belangrike vooruitgang in terme van bio-etiese standaarde en prosedures.

Caption: Elvira Rohland, Senior Etiekadministrateur in Gesondheidsnavorsing, het onlangs aan die Institusionele Beoordelingsraad van die Nasionale Instituut van Gesondheid van Amerika (NIG) se internskapprogram deelgeneem.