Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Medaljes en kwalifiserende tye vir Maties-swemmers
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 13/04/2017

​Altesame 25 lede van die Maties-swemklub het van 3-8 April aan die Suid-Afrikaanse nasionale swemkampioenskap deelgeneem as deel van die Wes-Kaapse span.

Uitstaande prestasies vir die week sluit dié van derdejaar– BCom-student Emma Chelius in, wat kwalifiserende tye vir die Universiade (Wêreldstudentespele) in sowel die 50m- en 100m-vryslagitems geswem het en daarmee twee silwermedaljes verower het. Sy het ook silwer in die 50m-vlinderslag gewen. Die 29ste somerstudentespele vind in Augustus in Taipei, Taiwan, plaas.

Marli Jacobs, 'n BEd-student in haar finale jaar, het weggestap met 'n uitstekende derde plek in die 200m-vlinderslag (2:19.59). Sy was ook 6de in die 100m-vlinderslag.

Finaliste by die byeenkoms sluit in Caitlin Kat (200m-vryslag en 200m-vlinderslag), Bryce Pendock (50m-vryslag) en Stephano Roodt (800m-vryslag).

Die klub se Parasport-swemmers, waaronder die Paralimpiese swemmer Hendri Herbst (S11 – 50- en 100m-vryslag), die eerstejaarstudent Alani Ferreira (S13 – 400m-vryslag en 100m-borsslag) en die jong ster Christian Sadie (S7), het almal kwalifiserende tye vir die Wêreldkampioenskap behaal. Sadie het in sy eerste groot nasionale kompetisie meegeding en in elke item waaraan hy deelgeneem het, gekwalifiseer. Hy het ook Afrika-rekords in die 50m-vlinderslag, 100m-vryslag en die 200m individuele medley opgestel. Die Wêreldkampioenskap vind in Oktober in Meksiko plaas.

Ander noemenswaardige pogings sluit dié van Inge Weidemann en Kiara Noades in. Albei hierdie junior klublede het binne die kwalifiserende standaarde vir die FINA Junior Wêreldkampioenskap wat in Augustus 2017 in Indianapolis, VSA, plaasvind, geswem. Albei meisies het ook op die senior podium geëindig, met Inge wat derde in die 50m-vryslag vir vroue en Kiara wat derde in die 200m-rugslag vir vroue geëindig het.

Die Maties-kontingent het 'n beduidende rol gespeel om die Wes-Kaapse span te help om sy eerste nasionale spantitel te verower.