Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sentrum vir Leertegnologieë stel SUNStream bekend
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 12/04/2017

​'n Splinternuwe videostromingsoplossing is aan die begin van die akademiese jaar 2017 in werking gestel onder leiding van die Sentrum vir Leertegnologieë. Een van die vernaamste aanvanklike dryfvere om die stelsel aan die begin van die jaar gereed te hê, was die verwagte toename in eerstejaarinskrywings en die gevolglike groter druk op lesinglokale. Die doel was om studente in staat te stel om deur middel van die videostromingsoplossing aan die lesings deel te neem, hetsy as 'n groep in bykomende lesinglokale of op hulle eie op 'n plek van hul keuse.

Deur hierdie intensiewe voorbereiding vir 'n moontlike risiko, beskik die US nou 'n stabiele en gebruikersvriendelike stromingsplatform wat werk.

  • Dit is volledig by SUNLearn geïntegreer (die dosent skep 'n virtuele klaskamersessie in 'n SUNLearn-module, en die studente volg die skakel na die virtuele klaskamer op SUNLearn).
  • Dit kan deelnemers in verskillende gelyklopende, virtuele, intydse, gestroomde klaskamers ondersteun.
  • Dit maak gebruik van die gevestigde en beproefde Adobe Connect-platform.
  • Dit is ontwerp om regstreekse leergeleenthede uit die klaskamer of kantoor (of selfs van mobiele toestelle op enige plek ter wêreld) te stroom en daardie sessies as video's op te neem, waarna studente later kan kyk.
  • Dit is geskik vir gebruik op mobiele toestelle en oor verskillende weblesers (met 'n baie nuttige en gebruikersvriendelike mobiele toepassing, en funksionaliteit op alle platforms en bygewerkte weblesers).

"Die strategie vir die gebruik van SUNStream (d.w.s. Adobe Connect op SUNLearn) is om die platform stadig, stelselmatig en gestruktureerd bekend te stel sodat dosente behoorlik opgelei en ondersteun en studente georiënteer word," sê JP Bosman, Hoof van die Sentrum vir Leertegnologieë. 

Dosente, departemente of fakulteite wat belang stel, kan die Sentrum vir Leertegnologieë kontak by 021 808 3563 of jpbosman@sun.ac.za vir verdere inligting, beplanning en gesprekvoering.