Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
2016 Hamilton Naki Clinical Scholarship
Matie-kardioloog ontvang gesogte studiebeurs
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 06/04/2017

Die prestigeryke Hamilton Naki-Kliniese Studiebeurs vir 2016 is aan ʼn senior kliniese assistent van die Afdeling Kardiologie, dr Marshall Heradien, toegeken. 

Hy was een van twee navorsers wat dié toekenning verlede jaar ontvang het. Die ander een was dr Shrish Budree, ʼn pediatriese gastro-enteroloog wat tans aan die Universiteit van Harvard studeer.

“Hierdie studiebeursinisiatief, waarin Netcare hande met die mediese skole van Suid-Afrikaanse universiteite gevat het, het geleenthede vir verdienstelike Suid-Afrikaanse mediese praktisyns geskep om hul studies en navorsing in hul onderskeie spesialisvelde voort te sit voordat hulle na Suid-Afrika terugkeer om tot die bevordering van Suid-Afrikaanse akademiese geneeskunde by te dra,” het dr Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, luidens ʼn verklaring van Netcare by die toekenningsplegtigheid gesê.

Die toekenning is vernoem na Hamilton Naki, ʼn selfopgeleide chirurg wat met eksperimentele werk gehelp het in die aanloop tot die eerste menslike hartoorplanting. Die legendariese prof Christiaan Barnard het Naki as ʼn man van buitengewone natuurlike chirurgiese vermoëns erken, maar weens die apartheidsbeleid is hy ondanks sy merkwaardige aanleg enige formele mediese opleiding ontsê. 

“Op hierdie manier eer ons die nalatenskap van Hamilton Naki en talle ander Suid-Afrikaners wat die geleentheid ontsê is om hul potensiaal op die gebied van geneeskunde gedurende apartheid te bereik en verseker ons die voortgesette vooruitgang van geneeskunde in ons land,” het Friedland gesê. 

Dr Bonginkosi Chiliza, wat tot onlangs ʼn medeprofessor in die Departement Psigiatrie was, is die enigste ander Matie wat die toekenning sedert sy ontstaan 10 jaar gelede ontvang het. 

Onderskrif: Prof Bongani Mayosi, Dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad, dr Marshall Heradien, ʼn kardioloog en internis van die Universiteit Stellenbosch en een van die ontvangers van die 2016- Hamilton Naki- Kliniese Studiebeurs, en dr Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare.