Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof. Jannie Hofmeyr is Royal Society van SA se nuwe president
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 04/04/2017

Prof. Jannie Hofmeyr, uitgelese professor in biochemie en biokompleksiteit by die Universiteit Stellenbosch, is as die nuwe president van die Royal Society van South Africa (RSSAf) verkies.

Die RSSAf wat reeds uit die 1820s dateer, is een van die oudste wetenskapverenigings in Suid-Afrika.  

Prof. Hofmeyr, mededirekteur van die Sentrum vir Komplekse Sisteme in Transisie by die US, sê dit is vir hom ’n eer om president te wees van ’n vereniging wat so ’n groot impak op die wetenskappe in Suid-Afrika gehad het.

Hy benadruk egter dat die rol van wetenskap as ’n waardige bron van betroubare inligting nog nooit so belangrik was as nou nie.

“Ons leef in ’n tyd waar die bydrae en belangrikheid van wetenskaplike navorsing bevraagteken word, waar die internet besaai is met sogenaamde ‘alternatiewe feite’ en pseudowetenskap ‒ veral met betrekking tot gesondheid en dieet. Ons word voortdurend gebombardeer met stories van twyfelagtige herkoms wat as die waarheid voorgehou word.”

Hy glo die RSSAf het ’n belangrike rol om te speel in openbare uitreike deur verstaanbare en feitelik korrekte verduidelikings vir wetenskaplike kwessies te bied. In hierdie verband het die RSSAf se openbare lesings en kollokwiums wat deur sy takke landwyd georganiseer is, reeds ’n enorme bydrae gelewer. Die RSSAf  reël ook jaarliks ’n opstelkompetisie vir skole.

Gedurende sy termyn as president sou hy graag wou hê dat die RSSAf ook fokus op die ondersteuning van wetenskapsjoernalistiek in die gedrukte, sowel as elektroniese media: “Wetenskapsjoernalistiek lê my na aan die hart, aangesien ek reeds meer as 15 jaar lank betrokke is by ’n radioprogram wat wetenskapgefundeerde antwoorde verskaf op luisteraars se vrae oor natuurverskynsels. Suid-Afrika se wetenskapsjoernaliste is yl gesaai en hulle het ondersteuning nodig.”

Die Universiteit Stellenbosch is goed verteenwoordig in die RSSAf se topstruktuur. Prof. Dave Richardson, direkteur van die NNS/DWT Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB) by die US, is visepresident, terwyl prof. Bert Klumperman, uitgelese professor in chemie en polimeerwetenskap, die redakteur van die RSSAf se publikasie, Transactions of the Royal Society of South Africa is.