Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sentrum vir Hoër en Volwassene Onderwys bied sesde konferensie oor nagraadse studieleiding aan
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 04/04/2017

Meer as 150 afgevaardigdes uit 11 lande het van 28-31 Maart die sesde konferensie oor nagraadse studieleiding wat deur die Sentrum vir Hoër en Volwassene Onderwys (SHVO) aangebied is, bygewoon.  Die sentrum is gesetel in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Die tema was 'Nagraadse studieleiding: Ruimtes, reise en nuwe horisonne' en besprekings het op die ruimtes, reise en uiteindelike bestemmings vir nagraadse studente en hul studieleiding gefokus.

Afgevaardigdes is deur prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die US, geopen.

"Die onderwerp van die konferensie lê my baie na aan die hart aangesien ek verantwoordelik is vir nagraadse studies aan die Universiteit Stellenbosch. Die sukseskoers op PhD-vlak in Suid-Afrika is slegs ongeveer 50%. Dit is baie kommerwekkend. By ons universiteit is die retensiekoers 65% – wat na my mening ook nie so goed is nie.

"Ons moet verstaan hoekom dit die geval is, en daarom is hierdie konferensie belangrik."

Prof Cloete het uitdagings soos die hoë geleentheidskoste van kandidate wat nie hul PhD's voltooi nie, die gebrek aan studieleidingkapasiteit en die stadige deurvoerkoers, uitgelig.

Om 'n nagraadse graad te voltooi, is nie maklik nie en vasberadenheid sowel as 'n goedgestruktureerde verhouding tussen student en studieleier is belangrike komponente vir sukses, het hy bygevoeg.

"Met hierdie konferensie voeg julle baie waarde tot die nagraadse omgewing by en ek sien uit daarna om te sien waarop hierdie vergadering gaan uitloop," het hy afgesluit.

Die hoofsprekers by die konferensie was medeprofessor Nick Hopwood van die Sydney Universiteit van Tegnologie, dr Suzanne Ortega, President van die Raad van Nagraadse Skole in die VSA, prof Kirsi Pyhältö van die Universiteit van Helsinki en dr Amaleya Goneos-Malka, nagraadse navorsingsgenoot aan die Universiteit van Pretoria.

Die konferensie wat Woensdag 29 Maart begin het, is Dinsdag 28 Maart voorafgegaan deur 'n vergadering van dekane van nagraadse studies (of hul eweknie) om die gemeenskaplike kwessies met betrekking tot internasionale en nasionale tendense en uitdagings vir nagraadse skole en kantore te bepreek.

Prof Liezel Frick, Direkteur van die SHVO, het gesê die konferensie was 'n belangrike geleentheid vir navorsers om hul navorsing oor nagraadse studieleiding met hul eweknieë te deel.

"Dit is ook 'n kapasiteitsbou-geleentheid vir nuwe studieleiers, maar uiteindelik leer ons almal by mekaar."

Emeritus professor Eli Bitzer, organiseerder van die konferensie, het bygevoeg dat die jarelange bestaan van die konferensie bevestig dat die Sentrum homself gevestig het as 'n leidende entiteit ten opsigte van nagraadse pedagogie en studieleiding sowel as navorsingonderrig – in Suid-Afrika en internasionaal.