Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oud-Matie se skaapplaas eerste in SA met amptelike internasionale organiese sertifisering
Outeur: Engela
Gepubliseer: 28/03/2017

Betrokkenheid van Universiteit Stellenbosch se Volhoubare Landbou-navorsingsgroep help in sertifiseringsproses


Vleis van die skaapplaas Elandsfontein naby Britstown in die Noord-Kaap Karoo is die eerste om, volgens internasionale standaarde, amptelik gesertifiseer en bemark te word as organies geproduseer in Suid-Afrika.

Die plaas, wat die afgelope drie generasies in die Esterhuizen-familie is, het sy sertifisering in Februarie 2017 ontvang nadat opgeleide inspekteurs die naspeurbaarheid, balans en organiese integriteit van boerderypraktyke volgens internasionale standaarde geoudit het.

Die slagpale wat deur die Esterhuizens gebruik word, sowel as die slaghuis "Boer and Butcher" in Durbanville waar Elandsfontein se vleis verkoop word, het ook deel gevorm van die inspeksie- en sertifiseringsproses. Dit word bemark onder die Smartt Karoo organiese logo.

Die pad na sertifisering

Geen wetgewing bestaan in Suid-Afrika wat betref die standaarde waaraan produsente vrywillig moet voldoen as hulle hul produkte of vee as organies wil bemark nie. Daarom het mede-eienaars Willie en Sonja Esterhuizen besluit om die Elandsfontein-plaas te laat sertifiseer volgens die Ecocert Organiese Standaarde (EOS). Dit voldoen aan, en is gelykwaardig aan, die standaarde van die Europese Unie.

Die Esterhuizens is gelei in die proses deur die sertifiseringsagentskap ECOCERT Suider Afrika. Insette van MSc-studente wat die program Volhoubare Landbou aan die Universiteit Stellenbosch volg het ook ʼn waardevolle rol gespeel het om die plaas vroeër as wat verwag is, te laat sertifiseer.

Volgens EOS organiese regulasies is dit nie toelaatbaar om gelyktydig met dieselfde vee-ras op dieselfde grond met konvensionele sowel as organiese metodes te boer nie.

"Die enigste uitsondering wat gemaak word is indien navorsing deur ʼn amptelike instelling op jou plaas gedoen word," verduidelik Willie en Sonja Esterhuizen, wat sedert 2014 op Elandsfontein boer in vennootskap met Willie se ouers, Jacques en Esmé Esterhuizen.

Toe ECOCERT Suidelike Afrika voorgestel het dat hulle ʼn navorsingsvennoot betrek, was dit ʼn maklike besluit vir Willie om te neem. Hy is ʼn alumnus van Universiteit Stellenbosch wat ʼn BCom-graad in Landbou-ekonomie behaal het voordat hy ook as gesertifiseerde finansiële beplanner gekwalifiseer het.

"Ons moet nog ʼn klein gedeelte van ons landboubedrywighede tot 100% organiese standaarde omskakel, maar danksy die waardevolle verhouding met Matie-navorsers in volhoubare landbou wat verskeie aspekte van ons bedrywighede bestudeer, was ons nou al in staat om internasionale sertifisering te verkry," verduidelik Willie. "Ons werk nou hard daaraan om toenemend te verseker dat ons praktyke en aktiwiteite 100% in lyn met organiese regulasies is, en word hierin gesteun deur insette van die studente."

Wat beteken dit om "organies gesertifiseer" te wees?

Hoewel die woord "organies" dikwels aangetref word op plaaslike produkte, is dit sonder die nodige papierwerk om te bewys dat dit as sodanig van plaas tot tafel volgens internasionale standaarde geproduseer en geoudit is.

Elandsfontein se produkte is gesertifiseer volgens die internasionale Ecocert Organiese Standaarde (EOS). Dit beteken dat hul produkte as organies gesertifiseer uitgevoer kan word na alle lande in die Europese Unie, Australië, Taiwan, die Arabiese Emirate, Madagaskar, Asië, Turkye en Serwië.

"Wanneer verbruikers produkte koop wat gemerk is as 'organies gesertifiseer', doen hulle dit met die wete dat hulle produkte koop wat volgens internasionale standaarde goedgekeur is," verduidelik Marianna Smith van die sertifiseringsagentskap ECOCERT Suider Afrika op Stellenbosch, wat die Esterhuizens gehelp het met die aansoekproses. "Wanneer ʼn produk as organies gesertifiseer word, word die naam of kode van die sertifiseringsliggaam daarop vertoon."

In die geval van Elandsfontein se vleisprodukte beteken dit dat geen groeihormone of roetine-antiobiotika gebruik word nie, en dat die skape slegs gesertifiseerde organiese plantmateriaal vreet wat nie met onkruid- of plaagdoders behandel is nie. Alle byvoeding moet geproduseer word uit nie-GMO saad.

"Die diere se gesondheid en welstand is ʼn top-prioriteit, en ons moes naspeurbare stelsels in plek sit vir elke enkele Merino-skaap om al hierdie vereistes te kan waarborg," verduidelik Willie meer oor van die papierwerk wat by die sertifiseringsproses betrokke was.

Elandsfontein is gelukkig dat die omringende Karoo-bossieveld en natuurlike weiveld aan al die dieetkundige vereistes van sy vee voldoen. Dit is slegs tydens tye van erge droogte dat bykomende voer verskaf moet word. ʼn Groot probleem vir Suid-Afrikaanse produsente is dat die meeste byvoere wat aan diere verskaf kan word tydens droogtes byvoorbeeld gewoonlik van geneties gemodifiseerde (GMO) saad gekweek word. GMO's word nie ingevolge organiese regulasie  toegelaat nie.

Betrokkenheid van MSc studente by Volhoubare Landbou

Die MSc-studente betrokke by die Elandsfontein-projek is Pienaar du Plessis, Yonela Jafta, Paul Jordaan en Philemon Sithole. Tydens hul studies het hulle tyd deurgebring op die plaas, en gefokus op aspekte soos die verskaffing van byvoere buiten lusern.

Hulle het onder meer ʼn verslag opgestel wat aandui hoe die Esterhuizens die mesquite-indringerbome van die Prosopis-familie wat op ʼn buurplaas groei, as 'n alternatiewe bron van organiese voer kan aanwend in droogtetye. Die studente het ook die mees onlangse bevindings oor hoe om plae en bosluise te beheer sonder sintetiese chemikalieë ondersoek, en moontlike markte vir organiese produkte behalwe vleis bekyk wat Elandsfontein-plaas kan verskaf, soos wol en heuning.

Volgens prof Kennedy Dzama, voorsitter van die Departement Veekundige Wetenskappe aan Universiteit Stellenbosch en akademiese leier van die MSc in Volhoubare Landbou-program, het die samewerking met die eienaars van Elandsfontein aan die studente die geleentheid gebied om te fokus op ʼn werklike voorbeeld van volhoubare boerdery, en om waardevolle insig in die proses te verkry.

"Hul navorsing vorm deel van hul werk-geïntegreerde leerproses, maar in die proses help hulle ook om werklike probleem op grondvlak aan te spreek," voeg hy by. Ander studente wat saam met hulle die program volg het byvoorbeeld saam met Distell gewerk om kwessies rondom die verlies van biodiversiteit en gronderosie in wingerde op te los.

"Die teoretiese basis van die MSc-program is gegrond op werklike voorbeelde en vorm deel van ʼn unieke module wat ons Werk-geïntegreerde Leer noem," verduidelik prof Dzama. "Dit verskaf aan studente die geleentheid om met lede van die bedryf te werk om ʼn navorsingsvoorstel te ontwikkel wat ʼn relevante bedryfsverwante probleem aanspreek."

Die pad vorentoe vir Elandsfontein

Die reaksie van die publiek op die bemarking van hul organies-gesertifiseerde vleisprodukte deur die slaghuis "Boer and Butcher" was tot dusver baie positief, en wys aan die Esterhuizens dat daar inderdaad ʼn mark vir so ʼn nis-produk in Suid-Afrika is.

Willie hoop dat ander produsente in die gebied ook die opsies van organiese boerdery sal ondersoek, sodat Britstown die middelpunt van organiese skaapboerdery in Suid-Afrika kan word.

Hy wil ook die opsie ondersoek om organiese wol te produseer, sowel as die produksie van organiese lanolien-olie as ʼn byproduk van wol vir gebruik in baba-produkte en skoonheidsmiddels.

"Daar is nog nie ʼn mark vir organiese wol in Suid-Afrika nie, omdat dit so duur is om dit te was en te prosesseer," verduidelik Esterhuizen. "Ons hoop dat verdere navorsing oor hierdie onderwerp vir ons deure sal open, en aan ons sommige antwoorde sal verskaf."


[Bykomende inligting]

Wat is die kriteria wat ʼn organiese landbouproduk definieer?

  • Organiese landbouprodukte: geproduseer sonder die gebruik van chemiese kunsmis of sintetiese landbouinsette, in grond bemes met organiese kunsmis en natuurlike minerale, wat die vermeerdering van grondmikrobes aanhelpe en op grond van toepassing van die voorsorgbeginsel
  • Diere: hoofsaaklik gevoer op organiese voer, nie-intensiewe veeteelt, grootgemaak met toegang tot die opelug, maksimum leefspasie
  • Geprosesseerde produkte: vervaardig van gesertifiseerde orgraniese rou landbouprodukte en ook van nie-landboubestanddele soos gemagtig deur Europese regulasies of die Verenigde State se "National Organic Programme" (NOP).

* Bron: Ecocert webwerf

Meer oor die MSc Volhoubare Landbou-program
Die eerste studente wat die MSc Volhoubare Landbou-program aan die Universiteit Stellenbosch aangepak het, het in 2014 ingeskryf. Die program is ʼn inisiatief tussen die Fakulteit AgriWetenskappe aan Universiteit Stellenbosch, die Wageningen Navorsingsuniversiteit in Nederland, en Conservation South Africa.

Die program bestaan uit modules wat strek oor die velde wetenskappe, geesteswetenskappe en ekonomiese wetenskappe, en oor ʼn breë verskeidenheid onderwerpe wat handel met die komplekse probleem van volhoubaarheid in die landbou. Deur die kursus spreek studente vrae aan oor die handhawing van ekostelseldienste in die konteks van voedselsekuriteit en maatskaplike gelykheid, die waarde van organiese landbou en die beperkings wat swart kleinboere in die gesig staar. Studente volg onder andere modules wat fokus op volhoubare grondbestuur, plant- en veeproduksie, sowel as aspekte van die ekonomie en sosiologie van volhoubare landbou. Hulle leer ook hom om grondgebruikstelsels te analiseer en biometrie toe te pas. In hul twee jaar voer studente individuele navorsingsprojekte uit.
* Meer inligting: laai ʼn brosjure oor die kursus hier af.

Meer oor ECOCERT

ECOCERT is 'n sertifiseringsliggaam in Franse besit, vir volhoubare ontwikkeling wêreldwyd. Dit word sedert 1999 in meer as 130 lande bedryf danksy sy 24 filiale – een waarvan ook in Stellenbosch, Suid-Afrika gebaseer is. Die ECOCERT naam en seël is geregistreerde handelsmerke wêreldwyd, en word vertrou deur verbruikers, ondernemings, industrieë en regerings. ECOCERT is aktief betrokke by die bewaring van die omgewing en maatskaplike verantwoordelikheid deur sy wye reeks produkte en dienste – organiese boerdery, prosessering en insette, organiese skoonheidsmiddels, "regverdige handel" produkte, organiese tekstiele, ekologiese groen ruimtes, organiese huisgeurmiddels en skoonmaakprodukte.

* Meer inligting: www.ecocert.com