Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gey van Pittius aan die stuur van navorsingskomitee
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 27/03/2017

​Prof Nico Gey van Pittius, die Visedekaan: Navorsing aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) by die Universiteit Stellenbosch (US), is onlangs as voorsitter aangewys van die Wes-Kaapse Provinsiale Gesondheidsnavorsingskomitee.

Dié navorsingskomitee is die eweknie van die Nasionale Gesondheidsnavorsingskomitee en bestaan uit lede wat die provinsie se onderskeie belangegroepe verteenwoordig, insluitend regeringsinstansies, universiteite, nie-regeringsorganisasies, navorsingsinstansies en gemeenskapsgebaseerde strukture.

Die komitee se mandaat is om navorsing in die provinsie te fasiliteer, bevorder en doen, asook om hulpbronne vir navorsing te mobiliseer. Die komitee is daartoe verbind om samewerking tussen die onderskeie belangegroepe te vergemaklik, en te help om kapasiteit te skep vir navorsing om te kan plaasvind. Dit  speel ook 'n sleutelrol daarin om die bevindings van gesondheidsnavorsing te interpreteer vir die gebruik daarvan in beleidsontwikkeling vir diensverskaffing.

Dis 'n baie wye mandaat, maar Prof Gey van Pittius is daarvan oortuig dat hulle 'n verskil kan maak. "Ek dink die Wes-Kaapse komitee funksioneer as een van die bestes in die land. Ons het dus 'n belangrike rol om te speel deur 'n voorbeeld te stel van hoe gesondheidnavorsing ingelig en gefasiliteer moet word."

Hoewel Prof Gey van Pittius vir 'n jaar en 'n half reeds op die komitee gedien het as die US se verteenwoordiger, is hy opgewonde oor sy nuwe rol as voorsitter. "Ons kan 'n selfs groter bydrae lewer en sodoende 'n voortuitstrewende gesondheidsnavorsingsomgewing skep wat goed funksioneer en tot die voordeel is van alle belangegroepe in die provinsie, insluitend die pasiënte wat ons dien."

Hy sê die universiteit speel 'n vername rol om te verseker dat gesondheidsnavorsing van hoë gehalte is en dat dit tot die grootste voordeel strek. "Navorsing en navorsingsbevindinge moet gekoppel wees aan, en geïntegreerd wees met, die oorhoofse gesondheidsbeleidsbeplanning. Dit sluit in die bestuur en die uitvoering van gesondheidsprogramme."

Dit is ook tot voordeel van die US. "As universiteit is ons veral geïnteresseerd in die sosiale impak van alles wat ons doen, so ons is opgewonde om te kan dien as 'n skakel tussen diegene wat die navorsing doen en diegene wat die navorsing gebruik en toepas."

Prof Gey van Pittius is onwrikbaar oor die uitdagings waarop hy die meeste wil fokus tydens sy termyn as voorsitter: hy wil die goedkeuringsproses versnel, asook die oordrag en interpretasie van navorsing na beleid en praktyk, bespoedig. "Ons moet aan oorspronklike maniere dink om kommunikasie tussen die navorser en die eindgebruiker van die nuwe kennis eenvoudiger en meer vaartbelyn te maak." Hy sien ook uit daarna om navorsingskapasiteit op alle vlakke te versterk en saam met die span van die Direktoraat: Gesondheidsimpakassessering, onder leiding van adjunkvoorsitter Dr Anthony Hawkridge, te werk.

"Die aanstelling is op 'n persoonlike vlak 'n groot eer. Ek volg in die voetspore van mense soos Prof Jimmy Volmink, die huidige Dekaan van die FGGW. Hy was die eerste voorsitter van die Wes-Kaapse Gesondheidsnavorsingkomitee en ek het vir baie jare baie nou saam met hom gewerk. Op 'n professionele vlak is dit altyd lekker om erken te word deur jou eweknieë as iemand wat só posisie pligsgetrou en eerbaar kan vul. Ek hoop om presies dít te kan doen."

Foto deur Damien Schumann