Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Zim-vriendinne kry ook hul doktorsgrade oor wingerdsiektes saam
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 14/03/2017

Twee klasmaats van Bulawayo wat voorgraads saam aan die Midlands State Universiteit in Zimbabwe studeer het, het ook nou saam hul doktorsgrade in die landbouwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Albei het navorsing gedoen oor spesifieke siektes wat wingerde kan aantas. Albei word in Mei vanjaar 35 jaar oud – en daarby deel hulle ook nog dieselfde van: Moyo. Hiermee dan die storie van plantpatoloog dr Providence Moyo en wynbiotegnoloog dr Mukani Moyo.

Volgens Providence het die twee vriendinne in 2002 ontmoet toe hulle albei voorgraadse studente in Biologiese Wetenskappe in Zimbabwe was. Na voltooiing daarvan het hulle albei ander rigtings ingeslaan, net om weer op Stellenbosch mekaar raak te loop waarheen hulle albei gekom het vir nagraadse studies.

"Ons is amper dieselfde ouderdom, en word albei in Mei vanjaar 35 jaar oud. Ek verjaar die 5de en Mukani die 28ste," vertel Providence, wat ook "Pro" genoem word deur haar vriendin.

Hulle het albei ook in dieselfde week hul navorsingswerk verdedig. Dit vorm deel van die akademiese proses wat nagraadse studente moet deurgaan voordat hulle suksesvol kan gradueer.

"Ek het vir daardie week in Pro se woonstel kom bly, en dit het beteken da tons ook na afloop daarvan die afhandeling daarvan saam kon vier," vertel Mukani, wat sedert 2009 aan die Universiteit Stellenbosch studeer het toe sy met haar MSc begin het. "Nou het ons vir 'n tweede keer saam graad gevang, nadat ons jare gelede saam ons voorgraadse kwalifikasies verwerf het."

Hulle het op 14 Maart 2017 hul PhD-grade verwerf – Providence in plantpatologie en Mukani in wynbiotegnologie. Hulle is deel van 'n groep van 18 studente en 61 meestersgraadstudente wat hierdie week grade van die US Fakulteit AgriWetenskappe verwerf het. Die PhD-groep sluit studente uit ses Afrikalande in: Suid-Afrika, Ghana, Nigerië, Namibië, Mosambiek en Zimbabwe.

"Een van die Universiteit Stellenbosch se missies is dat die instelling se voetspoor in Afrika moet vergroot, en veral wanneer dit by navorsingsaspekte kom," sê prof Danie Brink, waarnemende dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. "Een manier hoe dit gedoen kan word is om nagraadse ondersteuning te bied aan studente van regoor die vasteland. Hierdie poging word onder meer gerefklekteer in die groeiende getal nagraadse studente uit Afrikalande wat in die Fakulteit AgriWetenskappe studeer."

Dr Providence Moyo se navorsingswerk

Vir haar PhD in Plantpatologie het dr Providence Moyo 'n opname gedoen oor die verskillende soorte Diatrypaceae fungusspesies wat in Suid-Afrikaanse wingerde voorkom, asook op ander houtagtige plante wat naby wingerde groei. Diatrypaceae verteenwoordig 'n familie van fungusse. Veral die spesie Eutypa lata is van belang, want dit is bekend dat dit 'n vernietigende siekte wat wingerdkundiges ken as Eutypa terugsterfsiekte. Dit veroorsaak dat wingerdarms en -stompe begin verrot, en veroorsaak dat die plant oor 'n tydperk van 'n paar jaar vrek.

Sy het 15 verskillende soorte Diatrypaceae gevind, en vasgestel dat talle daarvan verband hou met spesifieke terugsterf-simptome. In die proses het sy ook 'n nuwe spesie Eutypa ontdek wat nog nie voorheen deur wetenskaplikes beskryf is nie. Wingerdkundiges en plantpatoloë het ook nie voorheen geweet dat sewe van die Diatrypaceae-spesies wat sy opgespoor het in Suid-Afrika voorkom nie.

Dr Moyo het haar navorsing onder leiding van dr Francois Halleen van die Landbounavorsingsraad en dr Lizél Mostert van die US Departement Plantpatologie voltooi.

Die projek is begin nadat plaaslike plantpatoloë berig ontvang het van oorsee dat nuwe soorte fungusspesies ontdek word wat almal vermoedelik verband hou met Eutypa terugsterfsiekte.

"Ons het nie geweet of hierdie spesies ook in Suid-Afrika voorkom nie, en het daarom besluit om ondersoek in te stel," vertel Providence, wat 'n betrekking as plantpatoloog by Citrus Research International in Nelspruit aanvaar het na afloop van haar studies.

Haar studie is egter meer as net 'n opname oor watter soorte fungus wat verband hou met terugsterfsiekte mens in Suid-Afrikaanse wingerde kry. Dit het ook 'n praktiese component. Sy het onder meer 'n laboratoriumtoets ontwikkel wat plantpatoloë en wingerdkundiges kan gebruik om vas te stel of die spesies Eutypa lata and Cryptovalsa ampelina teenwoordig is in die houtagtige dele van 'n wingerstok.

Dr Mukani Moyo se navorsingswerk

Vir haar PhD in Wynbiotegnologie het dr Mukani Moyo verskillende soorte molekulêre tegnieke gebruik om die wisselwerking tussen die druifplant en verskeie siekteveroorsakende swampatogene te ondersoek. Sy het veral gekyk wat gebeur as dié plante besmet word met Botrytis cinerea, die patogeen wat grysvrot veroorsaak.

Danksy die tegnieke wat sy gebruik het, kon dr Moyo vasstel wat die presiese aanvalstrategië is wat die fungus gebruik, én wat die plante op hul beurt doen ter beskerming. Hierdie sogenaamde interaktomiese studies het tot nuwe insigte oor die interaksie tussen die druifplant en sy patogene gelei.

Dr Moyo het onder meer bewyse gevind dat die druifplant nie al die verdedigingsmeganismes tot sy beskikking gebruik nie. Sy het onder meer vasgestel dat die poligalakturonase-inhiberende proteïen (PGIP), wat in ander plante 'n verdedigingsrol speel, nie dieselfde beskerming teen Botrytis vir wingerde bied nie. Wanneer dieselfde proteïen byvoorbeeld in tabakplante getoets word, bied dit wel beskerming teen hierdie fungus.

"Druifplante is natuurlik vatbaar vir Botrytis-infeksies. Anders as in ander plante lyk dit nie of die PGIP-proteïen daarin egter 'n rol speel om dit teen sulke infeksies te beskerm nie," verduidelik sy.

Dr Moyo sê die beste deel van haar PhD was bes moontlik ook die aspek wat haar die hardste bene laat kou het. Dit was om vas te stel presies hoekom hierdie geen beskerming aan sommige plante bied, maar nie aan ander nie.

'Dit het te doen met veranderinge in die selwand van plante wat die druifplant pgip-geen ooruitdruk, die vrystelling van vlugtige organiese komponente en die uitdrukkingsprofiel van gene wat betrokke is by uiters belangrike verdedigingsmeganismes soos hormoonregulering," verduidelik sy.

"Omdat die proses ondersoek is vanuit die perspektief van die patogeen én die plant kon mens meer lig op die onderwerp werp," reken sy.

Dr Moyo het haar navorsing onder leiding van prof Melané Vivier van die Instituut vir Wynbiotegnologie in die US Departement Wingerd- en Wynkunde voltooi.

  • Die 18 studente wat op 14 Maart 2017 hul doktorsgrade vir  PhD vir navorsing in die Fakulteit AgriWetenskappe ontvang het is:
    Samuel Adu-Acheampong (Bewaringsekologie); Stephen Amiandamhen (Houtproduksiekunde); Omowumi Binyotubo (Akwakultuur); Bernard Effah (Houtproduksiekunde); Sarah Erasmus (Voedselwetenskap); Maxine Jones (Voedselwetenskap); Lelani Mannetti (Bewaringsekologie); Tlou Masehela (Entomologie); Providence Moyo (Plantpatologie); Luke Mugode (Voedselwetenskap); Eliah Munda (Agronomie); Edson Ncube (Plantpatologie); Jeronimo Ribeiro (Agronomie); Letitia Schoeman (Voedselwetenskap); Tara Southey (Wingerdkunde); Louwrens Theron (Wynbiotegnologie); and Iyve Zvinorova (Veekundige Wetenskappe).