Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Maak ‘n verskil deur die wetenskap’
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 22/02/2017

​Vir prof Gerhard Walzl is mediese navorsing soos om lid van 'n aflosspan te wees – die aflosstok moet aangegee word om die momentum te behou.

Dis 'n taak wat hy deesdae met hernude ywer aanpak. Prof Walzl is die nuwe hoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement van Biomediese Wetenskappe. Hy volg prof Paul van Helden, wat voormalig die pos beklee het, op. Dié departement van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe sluit in afdelings soos Anatomie, Mediese Fisiologie en Molekulêre Biologie en Mensgenetika.

"Dit bly 'n groot verantwoordelikheid om 'n nuwe generasie biomediese wetenskaplikes op te lei," sê hy. "Ek sien baie uit daarna om voortaan 'n groter mentorskapsrol te vervul en saam met onder andere afdelingshoofde te werk om ons aanbod te verbeter wat onderrig, leer en navorsingsuitsette betref."

Prof Walzl is 'n gerekende navorser uit eie reg. Die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, wat hy lei, is gemoeid met die heel jongste navorsing in onder meer tuberkulose (TB) en oorerflike genetiese afwykings. Prof Walzl is ook die direkteur van die DWT/NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Biomediese Tuberkulosenavorsing.

Navorsers krap steeds kop waarom sommige mense meer vatbaar is daarvoor om aktiewe TB te ontwikkel as ander, vertel hy. Suid-Afrika het boonop van die hoogste voorkoms hiervan ter wêreld. Ongeveer 900 uit elke 100 000 Suid-Afrikaners ontwikkel elke jaar TB-simptome en benodig behandeling. Maatskaplike, ekonomiese faktore, MIV asook genetiese faktore speel 'n rol.

Prof Walzl sê navorsers in sy groep is gemoeid met verskeie pogings om nuwe instrumente te ontwikkel om TB te voorkom en te behandel. Hulle bekyk onder meer nuwe biomerkers om vinniger nuwe middels en entstowwe te beoordeel en ontwikkel diagnostiese hulpmiddels om die aansteeklikheid van dié siekte te beperk.

Prof Walzl, wat "per toeval" in TB-navorsing beland het, het eers as 'n pulmoloog gewerk en in interne geneeskunde gespesialiseer voordat hy 'n doktorsgraad in London voltooi het. Hoewel hy oorspronklik TB-navorsing aan die Imperial College hiervoor sou doen, moes hy destyds inderhaas 'n ander studierigting inslaan omdat sy studieleier op sy eerste dag dáár bedank het.

Hy het in immunologie-navorsing beland en navorsing op muise gedoen. "Ek het die kliniese werk baie geniet en wou graag terugkeer na Suid-Afrika om weer met pasiënte te werk. Op daardie stadium was my voormalige pos by die (Tygerbergse) longeenheid hier egter nie meer beskikbaar nie. Prof Van Helden het my 'n pos in TB-navorsing aangebied. Ek kon toe van my nuut verworwe kennis oor immunologie terugploeg."

Daar is volop uitdagings in sy nuwe pos, onder meer om te verseker daar is genoeg skenkergeld en navorsingstoelaes beskikbaar om navorsers se salarisse te betaal.  Altesame 55 mense doen TB-navorsing in sy groep. Prof Walzl verduidelik: "Ons situasie is anders as in die meeste ander afdelings omdat die meerderheid van ons navorsers se salarisse met eksterne befondsing betaal moet word."

Die laaste paar jaar het die Suid-Afrikaaanse regering en staatsinstellings aansienlik meer geld vir navorsing hier bewillig as tevore. Dit bly egter steeds 'n druppel aan die emmer en hulle is steeds grootliks afhanklik van oorsese finansiering. "Ons steun byvoorbeeld swaar op die Amerikaanse National Institutes of Health, die Welcome Trust, die Gates Foundation en die Europese Unie vir ons TB-navorsing."

Gewoonlik is net 2% tot 10% van alle aansoeke om navorsingstoelaes boonop suksesvol, vertel hy. "'n Mens moet daarom op lang termyn dink en terselfdertyd verskeie ysters in die vuur hê wat aansoeke betref. Dit is 'n omgewing met baie stres en uiters mededingend. Ons bedryf derhawe hierdie afdeling soos 'n onderneming, behalwe dat ons nie geld maak nie. Ons valuta is kennis."

Die klem in navorsing skuif boonop die laaste paar jaar toenemend na studies waarin basiese wetenskaplike kennis omgeskakel word in 'n mediese produk, middels of byvoorbeeld 'n entstof. "Dit raak moeiliker om finansiering te kry vir navorsing wat nie 'n toepassing het nie."

Dikwels maak dit daarom sin om saam met ander navorsingsinstellings te werk en saam groter vrae te kan beantwoord. TB-navorsers hier werk in verskeie internasionale konsortiums, wat baiemaal ook nasionale medewerkers soos die Universiteit van Kaapstad insluit.

"Die groot nadeel (van konsortiums) is natuurlik dat jy iets in ruil moet gee vir sulke samewerking, hetsy outeurskap of studiedeelnemers se monsters. 'n Mens moet egter nie kortsigtig oor hierdie goed dink nie – samewerking is belangrik en dit is die toekoms, met inagneming van beperkte bronne. Dit help ook nie jy kry 'n entstof wat byvoorbeeld werk in Bellville maar geen toepassing in Uganda, Asië of Ethiopië het nie."

Prof Walzl en sy groep is tans onder meer besig met 'n groot internasionale projek om 'n goedkoop vingerpriktoets te ontwikkel wat as 'n siftingstoets gebruik kan word om vas te stel hoe groot die kans is dat 'n mens aktiewe TB ontwikkel het.

"Ons werk ook aan 'n voorspellende toets, onder andere om die risiko vir toekomstige ontwikkeling van aktiewe TB vas te stel. Ons wil vastel waarom iemand wat met TB besmet is, siek raak. Hiervoor bekyk ons onder meer mense se natuurlike weerstand met of sonder 'n entstof en probeer voorspel of 'n entstof gaan werk."

Naas studies oor die voorkoming en diagnose van TB is hulle ook op soek na biomerkers oor hoe lank mense behandel moet word. "Ons weet reeds 'n mens kan 85% van mense met TB genees as jy hulle vir korter as ses maande, wat die standard behandelingstydperk is, behandel. Maar hoe bepaal jy wie is die 15% van die bevolking met aktiewe TB wat ses maande lank behandel moet word?  Dit is deel van 'n groot en opwindende navorsingsprojek wat hopelik in April vanjaar van stapel gestuur sal word."

Prof Walzl sê genetiese navorsing het hul studieveld reeds ingrypend verander. "Daar is toenemend 'n beweging om medisyne vir die individue te ontwikkel. Kan 'n mens jou gene of selfs proteïen gebruik om te besluit watter behandelings jy benodig? En wat gaan jy met daardie inligting doen? Dit ontsluit allerhande etiese kwessies en talle vrae wat ons nog nie kan beantwoord nie. En onthou; hierdie kennis alleen beteken nie die einde van siektetoestande nie. Dit kan wel 'n omwenteling meebring in hóé ons dit behandel."

Prof Walzl sê hy wil graag vanjaar heelwat fokus op opleiding van voorgraadse studente. "Kort voor Desember was ons eerstejaars nog skoolleerders. Ons (department) kan 'n groot rol speel om nuwe studente op kampus te steun asook hul ingesteldheid teenoor die mediese professie en biomediese wetenskap in sy geheel, te help vestig."

"As 'n nuwe student nie welkom voel nie, gaan hulle dit lank met hul saamdra. En kom ons wees maar eerlik, heelwat van ons studente voel onwelkom. Ons moet nuwe, inklusiewe maniere vind om almal te laat tuis voel en ons studente leer om krities te dink. Daar is dikwels 'n siening dat moderne wetenskap behoort aan ontwikkelde, ryk lande soos in Europa of die VSA.

"Wetenskap, byvoorbeeld ons begrip oor hoe selle verdeel, behoort egter aan almal. Dit is nie 'n Westerse ding nie – dit handel oor die natuurwette. Dis net so ons wetenskap as wat dit die Amerikaners s'n is. Ons moet dit ons eie maak en dit reg toepas in ons omstandighede.

"Ons wil ons studente wys hierdie is jóu wetenskap en jóú kampus en jy kán 'n verskil help maak."