Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mediaverklaring: Mishandeling van 'n hoender
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 21/02/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) veroordeel dieremishandeling in die sterkste moontlike terme en sal nie huiwer om op te tree teen enigiemand wat hulself in hierdie verband skuldig maak nie. Dit is die reaksie van die US-bestuur in die lig van die mishandeling van ʼn hoender by ʼn Universiteitskoshuis op Saterdag 18 Februarie 2017.

ʼn Ondersoek is reeds geloods na die gebeure wat plaasgevind het tydens die jaarlikse “Hoenderdag” van die Helshoogte-koshuis op die Stellenbosch-kampus.

Die koshuis bied die jaarlikse Hoenderdag aan as ʼn fees van musiek, dans en kosstalletjies. Die naam Hoenderdag is afkomstig van die koshuis se embleem wat ʼn hoender uitbeeld – ʼn simbool wat inwoners respekteer en koester. Hoenders vorm egter nie deel van die dag se gebeure nie.

Volgens ʼn voorlopige verslag van die Universiteit se ondersoekbeampte kan daar bevestig word dat die individu wat op grond van beskikbare beeldmateriaal as die skuldige geïdentifiseer is, nie ʼn inwoner van Helshoogte-koshuis, ʼn US-student of ʼn alumnus van die Universiteit is nie. Dit moet egter nie gesien word as ʼn regverdiging van die voorval deur die Universiteit, die organiseerders van die byeenkoms of die Helshoogte Huiskomitee nie. Dit dien wel as bevestiging dat die voorval nie deel van die amptelike program en aktiwiteite van die dag was nie en dus nie geïnisieer of beplan was deur die organiseerders nie. Ongeag die oorsprong daarvan kan sulke optrede nie goedgepraat of geïgnoreer word nie en ʼn omvattende ondersoek na die voorval is onderweg.

Die geleentheid was oop vir die publiek en sekuriteit was teenwoordig by die ingange en uitgange. Dit is tans onduidelik hoe die individu dit reggekry het om ʼn hoender op die perseel te bring.

ʼn Besorgde student het die voorval aan die koshuis se Huiskomitee gerapporteer wat dadelik die skuldige party of partye probeer opspoor het, maar sonder sukses. Daar word aanvaar dat die persoon die perseel intussen verlaat het. Hulle het ook dadelik na die voorval stappe geneem om enige verdere mishandeling te voorkom. Die hoender word tans versorg.   

Weens die erns van die saak het die Huiskomitee nie net die saak aan die Universiteit rapporteer nie, maar ook aan die Dierebeskermingsvereniging in Stellenbosch, wat ook die voorval ondersoek.

Die Helshoogte Huiskomitee het in ʼn verklaring die versekering gegee dat die doel van die geleentheid hoegenaamd nie is om diere te mishandel nie en dat diere as ʼn reël nie deel van die aktiwiteite vorm nie. In die verklaring gee die koshuis toe dat die voorval op hul perseel plaasgevind het, maar dat sulke gedrag nie deur enige lid van die koshuis goedgepraat word nie. “Ons veroordeel hierdie gedrag ten sterkste, en dit is nie die tipe gedrag wat ons by die koshuis aanmoedig nie. Die persoon wat van die mishandeling verdink word, is van dieremishandeling aangekla en ons sal met die owerhede saamwerk om te verseker dat dissiplinêre optrede geneem word.”

Die Huiskomitee het ook bevestig dat die hoender nie aan die koshuis behoort nie en dat dit sonder die medewete of toestemming van die huiskomitee op die perseel gebring is.

Die ondersoek duur voort, maar aanduidings is tans dat dit ʼn geïsoleerde insident is. Die Universiteit het nog nie vantevore enige klagtes oor die dag of aktiwiteite wat gedurende die geleentheid plaasgevind het, ontvang nie.