Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mellon-toelaag van R11.2 m sal transformasie by Maties help ondersoek
Outeur: Ilse Arendse & Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 16/02/2017

Hoewel die #FeesMustFall-beweging van 2015 en 2016 die dringendheid van transformasievraagstukke in die hoëronderwyssektor beklemtoon het, het dit baie belanghebbendes, veral universiteite, aan die wonder gehad oor wat die beste reaksie sou wees op studente se bewerings van voortgesette ontoeganklikheid en diskriminasie.

Danksy 'n Andrew W Mellon-toelaag van R11.2 miljoen sal die Universiteit Stellenbosch se Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie nou dieper kan delf in die vraagstuk oor hoe die hoëronderwysomgewing die beste getransformeer kan word. Hiervoor sal die Departement op sy eie bestaande kurrikulum konsentreer en deur die projek Indexing Transformation (oftewel Indeksering van Transformasie) kritiese pedagogie en institusionele transformasie ondersoek. Dié projek word amptelik op 16 Februarie by die Universiteit van stapel gestuur.

Volgens prof Steven Robins, leier van die Indexing Transformation-projek, sal die Departement nou kan ondersoek instel na wat 'transformasie' werklik vir Suid-Afrika se hoëronderwyssektor sowel as vir die groter Suid-Afrikaanse samelewing beteken.

"In 2015 is 'n dokumentêr getiteld Luister oor swart studente se ervarings van studentwees aan die Universiteit Stellenbosch op YouTube geplaas. Dit het in 'n oogwink 'n hewige nasionale debat ontketen oor institusionele rassisme en die taal- en kultuurstruikelblokke waarmee swart studente by universiteite met Afrikaans as onderrigtaal te kampe het," sê Robins.

"Hoewel die bestuurspan tot in daardie stadium transformasie aan die Universiteit gewoon beskou het aan die hand van statistiese data, grafieke en aanwysers oor die rassedemografie op kampus, met ander woorde oor die getalle wit, Indiër-, bruin en swart Afrikaanstudente en -personeellede, het die Luister-dokumentêr die lewenservarings van swart studente in die koshuise, op die universiteitsdorp en op kampus na vore gebring."

Volgens Robins sal die projek die Departement ook help lig werp op wie institusionele transformasie bepaal, beoordeel en meet, en hoe kennis in die geesteswetenskappe in Suid-Afrika nou reageer op die rassebelaaide ontstaansgeskiedenis van dié vakrigting 22 jaar nadat die post-apartheidsdemokrasie aangebreek het.

Hierdie vrae sal die kern uitmaak van die nuwe navorsings- en nagraadse onderrigprojek wat deur 'n span navorsers in die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie onderneem sal word. Die toelaag van R11.2 miljoen van die Andrew W Mellon-stigting is vir 'n tydperk van vyf jaar en dek onder meer 'n deeltydse programbestuurder, navorsingsprojekte, 78 nagraadse studentebeurse sowel as 'n weeklikse seminaarreeks. Dit sal ook aangewend word vir 'n internasionale konferensie oor institusionele transformasie, wat die aktiwiteite en uitdagings vir die studie van transformasie sal bepaal, sowel as 'n jaarlikse werksessie vir personeellede en nagraadse studente wat transformasiekwessies bestudeer.

Die projek sal geskied onder leiding van Robins, wat as hoofnavorser sal optree, medehoofnavorser dr Bernard Dubbeld, sowel as 'n beheerkomitee wat uit mnr Jan Vorster, me Elizabeth Hector, me Anne Wiltshire en me Nwabisa Madikane sal bestaan.

Die ontwikkeling van navorsingsklusters, die bekendstelling van 'n kursuswerkmagistergraad met die klem op kritiese transformasiestudie, sowel as 'n seminaarreeks sal ook deel uitmaak van die projek. Die doel met hierdie vakkundige intervensies, sê Robins, is "om Indexing Transformation in 'n innoverende en dinamiese intellektuele ruimte vir vakkundiges en nagraadse studente te ontwikkel sodat hulle die diverse sye van transformasie kan ondersoek".

Dr Saleem Badat, programdirekteur van internasionale hoëronderwys- en strategiese projekte by die Mellon-stigting, sê hulle is "ingenome om verbind te word met die Universiteit Stellenbosch, synde een van die voorste navorsingsuniversiteite in Afrika".

"Die stigting se vennootskap met Stellenbosch is daarop gerig om die geesteswetenskappe en lettere se bydrae tot menslike voorspoed en tot die welstand van diverse en demokratiese samelewings te versterk en te bevorder, en om programme van 'n hoë gehalte vir die skep van nuwe kennis en die bou van nuwe generasies intellektuele vakkundiges, veral uit benadeelde agtergronde, te ondersteun," voeg Badat by.

Die projek kom net na die Mellon-gefinansierde projek Indexing the Human (oftewel Indeksering van die Mens), wat tussen 2014 en 2015 'n suksesvolle seminaarreeks aangebied en 'n dinamiese navorsingsruimte in die Departement ontwikkel het.

"Die projek Indexing the Human kon kritiese besinning oor die geskiedenis van die geesteswetenskappe op Stellenbosch en in Suid-Afrika in die breë teweegbring. Ons huidige projek is 'n uitvloeisel van hierdie voortgesette studie van die aard van kennisproduksie in die geesteswetenskappe. Dit spruit ook uit die erkenning dat ons in ons universiteitsruimtes en intellektuele werk ernstig moet ondersoek instel na hardnekkige rasseongelykhede en struikelblokke vir demokratiese, inklusiewe intellektuele praktyk – 'n erkenning wat verder onderstreep is deur die onlangse landwye studenteprotes," sê Robins.

Foto: Studente van die Universiteit Stellenbosch was ook deel van die #FeesMustFall beweging in 2015 en 2016. (Stefan Els)