Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Raad keur hersiene Toelatingsbeleid goed
Outeur: Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
Gepubliseer: 16/02/2017

Kommunikasie uit die Raad, 11 Februarie 2017

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het Saterdagmiddag ʼn hersiene Toelatingsbeleid vir die instelling aanvaar, wat op 1 Maart 2017 in werking tree wanneer aansoeke vir die 2018 akademiese jaar oopgestel word.

Hiermee voldoen die Universiteit aan die grondwetlike reg van toegang tot voortgesette onderwys, en sy wetlike plig om te verseker dat die instelling se toelatingsbeleid gepaste maatreëls instel om die ongelykhede van die verlede reg te stel sonder enige onbillike diskriminasie. In die lange duur is die beleid daarop gemik om by te dra tot die skep van ʼn nie-rassige en gelyke samelewing waarin rasgebaseerde regstelling oorbodig is.

"Dit skep ʼn gelykberegtigende, deursigtige en billike proses vir toegang tot voorgraadse en nagraadse programme aan die US. Dit stem ooreen met die Universiteit se verbintenis om meer inklusief te wees deur die verbreding van toegang tot die instelling en die verdieping van sy transformasie, soos vervat in die US se rigtinggewende beleidsdokument, sy Institusionele Voorneme en Strategie (IVS)," het mnr George Steyn, Raadsvoorsitter, gesê.

Die IVS is in 2013 aanvaar, en dieselfde jaar het die Rektoraat ʼn ondersoek aangevra oor gepaste toelatings- en keuringsmeganismes, in die strewe na ʼn billike en holistiese teenvoeter vir sosio-ekonomiese benadeling in Suid-Afrika. ʼn Taakspan is aangestel om die vorige Toelatingsbeleid deur middel van ʼn proses van ondersoek, navorsing en konsultasie te hersien.

Ná meer as twee en ʼn half jaar van intensiewe konsultasie met belanghebbendes het die taakspan ʼn konsep-beleid voorgestel. Hierin word drie oorwegings vir die toelating van voornemende studente tot die US se studieprogramme vermeng:

  • bewese akademiese meriete op skoolvlak;
  • transformasie van die rassedemografie van die US se studenteliggaam; en
  • regstelling van die sosio-ekonomiese benadeling wat sommige studente ervaar.

"Dit verteenwoordig 'n genuanseerde stel indikatore waarmee die Universiteit ʼn diverse groep nuwelingstudente met die potensiaal om hul studies suksesvol te voltooi, kan toelaat. Die drie oorwegings vul mekaar aan in die nastrewing van die US se strategie van uitnemendheid deur diversiteit," het Prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig, gesê.

Die fundamentele doelwit is om die Universiteit se kultuur van akademiese uitnemendheid te handhaaf deur die beste aansoekers te lok, en die transformasie van die US te fasiliteer sodat die instelling 'n meer inklusiewe en verteenwoordigende studenteliggaam sal hê. Die Universiteit se reputasie as ʼn plek van uitnemendheid hang af van sy vermoë om te verseker dat hy 'n diverse studenteliggaam lok en behou, want dit verryk die leerervaring.

Die Universiteit neem kennis van die vele fasette en komplekse aard van benadeling in die Suid-Afrikaanse konteks. Die Universiteit erken die noodsaak om toelating te gee aan sosio-ekonomies benadeelde studente, ongeag rasseklassifikasie, wat voldoen aan die minimum-vereistes vir 'n gekose studieprogram maar nie andersins vir toelating oorweeg sou word nie.

Die beleid, en die jaarlikse teikens, sal aangepas word na gelang van vordering aan die Universiteit en in die res van die samelewing met die uitwissing van historiese rasseverdelings.

Die Toelatingsbeleid het die volle roete van institusionele goedkeuring deurloop, met insette van al 10 die US se fakulteite, sy Senaat en sy Institusionele Forum. Dit is ook vir openbare deelname oopgestel – die Universiteitsgemeenskap, asook die breë publiek, is genooi om in Oktober 2016 kommentaar te lewer. Die finale konsep is omvattend bespreek by ʼn buitengewone Raadsvergadering op 11 Februarie 2017, en toe goedgekeur.

"Ons het ons Toelatingsbeleid hersien as ʼn toonaangewende nasionale hoëronderwysinstelling, ʼn nasionale bate wat die nasionale belang en die nasie in geheel dien. Stellenbosch is ʼn universiteit vir alle Suid-Afrikaners," het Prof Wim de Villiers, Rektor, gesê.

  • Die hersiene Toelatingsbeleid sal op die Universiteit se webblad (www.sun.ac.za) beskikbaar gestel word sodra die Raad se wysigings aan die finale konsep aangebring is.