Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Manage PermissionsManage Permissions
|
Version HistoryVersion History
Wat het van die ‘sorg’ in gesondheidsorg geword?
Outeur: FMHS Marketing Office / FGGW Bemarkingskantoor
Gepubliseer: 10/02/2017

​Die Departement Psigiatrie en die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch wil graag hul innige simpatie betuig met die families van die mense wat met hul lewe geboet het weens die oorhaastige en onoordeelkundige ontslag van gebruikers van geestesgesondheidsorg deur die Life Esidimeni-geestesgesondheidsorgfasiliteite in Gauteng. Ons wil ook ons woede uitspreek oor die gevoellose miskenning van hierdie individue se basiese menseregte, wat skynbaar die hele projek gekenmerk het. Ons wil voorts die agbare Minister van Gesondheid, dr Aaron Motsoaledi, en die Gesondheidombudsman, prof Malegapuru Mokgoba, vir hul bemoedigende reaksie op hierdie tragedie bedank.

Die de-institusionaliseringsproses, wat in beginsel so aantreklik is en so maklik op ʼn abstrakte vlak goedgepraat kan word, kan op rampspoedige wyse verkeerd loop as gemeenskapsgebaseerde hulpbronne nie voor inwerkingstelling in plek gestel is nie. Dit is baie duidelik dat die NRO's waarheen die Esidimeni-pasiënte oorgeplaas is, ʼn algehele tekort aan die vereiste personeel, geriewe en kennis gehad het om na mense met geestesgesondheidsprobleme om te sien.

Ofskoon heelwat vordering gemaak is met die ontwikkeling van ʼn primêresorg-gebaseerde gesondheidstelsel, is talle gebruikers van geestesgesondheidsorg van die begin van hierdie projek af benadeel. Dit is deels so omdat daar steeds diepgaande onkunde onder beide leke en gesondheidsorgberoepslui heers oor die aard van geestessiektes, intellektuele ongeskiktheid en die behoeftes van diegene wat met hierdie toestande saamleef, maar ook omdat gebruikers van geestesgesondheidsorg dikwels nie in die posisie is om te weet wat hul regte is of selfs enige ongunstige veranderinge in hul omgewing te verstaan nie. Dit is voorwaar moeilik om te dink aan die subjektiewe ervaring van ʼn verwarde en beangste mens, met min intellektuele of emosionele reserwes, wat foltering en die dood weens verwaarlosing, honger of mishandeling in die gesig staar en dit behoort almal van ons met skaamte en ʼn diepe hartseer te vervul.  

Bydraend tot die pyn van hierdie sinlose lewensverlies, is die feit dat die Gautengse Departement van Gesondheid telkens deur kundiges op die gebied gewaarsku is wat sou gebeur as die Esidimeni-inwoners sonder behoorlike beplanning en die vestiging van gepaste gemeenskapsgebaseerde hulpbronne ontslaan sou word. Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Psigiaters, die Sielkundige Vereniging van Suid-Afrika, die Suid-Afrikaaanse Depressie- en Angsgroep, die Suid-Afrikaanse Federasie vir Geestesgesondheid en ander het die departement probeer ontmoedig om hierdie roete te volg, en selfs om ʼn hofinterdik aansoek gedoen om optrede te voorkom wat duidelik uiters nadelige gevolge sou inhou. Nie een van dié pogings was suksesvol nie.

As nasies beoordeel word ooreenkomstig hul sorg vir die kwesbares onder hulle, het ons gewis klaaglik misluk en ons doen ʼn beroep op alle gesondheidsowerhede om toe te sien dat hierdie die laaste voorval van hierdie aard in ons land is. Ons steun beroepe vir toerekenbaarheid, maar sou ook wou sien dat opvoeding oor geestessiektes op die hoogste vlak van besluitneming in elke departement plaasvind. Ons doen ʼn beroep op diegene wat by die formulering van beleid en die ontwikkeling van dienste betrokke is, om die beskikbare kundigheid in ons land te raadpleeg en na hulle te luister.

Die afgryslike gevolge van die voortydige oorplasing van gebruikers van geestesgesondheidsorg van die Esidimeni-fasiliteite moes nooit plaasgevind het nie en ons sal graag met die relevante staatsdepartemente saamwerk om te verseker dit gebeur nooit weer nie.  Ons doen ook ʼn beroep op alle gesondheidsdepartemente en finansiers van gesondheidsorg om te verseker dat geestesgesondheid oor die lewensduur heen billike en voldoende finansiering en voorsiening van personeel geniet. Dít is die enigste manier hoe ons ʼn herhaling van hierdie tragedie kan voorkom en kan begin om die talle probleme aan te pak wat ons samelewing teister, van die verwaarlosing van gebruikers van chroniese geestesgesondheidsorg tot die slagting van padongelukke en interpersoonlike geweld, van traumaverwante skade tot onderwysmislukking en gefragmenteerde gesinne. Die geestesgesondheidsorgstelsel op nasionale en provinsiale vlak, met beide private en staatsfinansiering, sukkel om selfs die mees basiese dienste aan die grootste deel van ons bevolking te verskaf en die voortdurende gebrekkige finansiering van hierdie sektor moet dringend aandag geniet.

Prof Jimmy Volmink, dekaan

Prof Julia Blitz, Visedekaan: Leer en Onderrig

Dr Therese Fish, Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak

Prof Nico Gey van Pittius, Visedekaan: Navorsing

Mnr Eben Mouton, Direkteur: Besigheidsbestuur

Prof Hennie Botha, Uitvoerende Hoof van die Departement Verloskunde en Ginekologie

Prof Usuf Chikte, Waarnemende Uitvoerende Hoof van die Departement Globale Gesondheid

Prof Wolfgang Preiser, Waarnemende Uitvoerende Hoof van die Departement Patologie

Prof Mariana Kruger, Uitvoerende Hoof van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid

Prof Andrew Levin, Uitvoerende Hoof van die Departement Anestesiologie en Kritieke Sorg

Prof Rafique Moosa, Uitvoerende Hoof van die Departement Geneeskunde

Prof Richard Pitcher, Uitvoerende Hoof van die Departement Mediese Beelding & Kliniese Onkologie

Prof Soraya Seedat, Uitvoerende Hoof van die Departement Psigiatrie

Prof Anita van der Merwe, Uitvoerende Hoof van die Departement Verpleegkunde en Verloskunde

Prof Gerhard Walzl, Uitvoerende Hoof van die Departement Biomediese Wetenskappe