Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Spelers se intensiteit beïndruk Wylie
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 08/02/2017

Die karakter wat sy spelers gewys het in die tye toe hulle met die rug teen die muur was, het die Steinhoff Maties-krieketafrigter, Andrew Wylie, by die pas afgelope Varsity Krieket-toernooi beïndruk.

Die Maties het ná die uitspeelronde boaan die punteleer gestaan in die toernooi wat in Potchefstroom gespeel is, maar het in die halfeindronde teen die Universiteit van Pretoria verloor. Die tuisspan Pukke het uieindelik die titel gewen en Maties het derde geëindig.

"Die standaard van spel in die toernooi was baie goed. Elke span wat deelgeneem het, was mededingend. Daar was geen wedstryd waar die een span die ander oorrompel het nie. Die toernooi het beslis in statuur gegroei," het Wylie gesê.

"'n Hele paar dinge het vir my uitgestaan. Eerstens, hoe elke speler sy individuele rol vertolk het tot voordeel van die span. Die karakter wat hulle gewys het in die oomblikke waar ons met die rug teen die muur was, is nie iets wat spelers geleer word nie. Ek kan nie krediet daarvoor neem nie. Dit sê iets oor dié span. Die liggaamstaal in sowel die moeilike as die goeie tye was ook indrukwekkend."

Verskeie spelers het aan hul eerste Varsity Krieket-toernooi deelgeneem. Een van hulle was die kaptein, Gerhard Erasmus.

"Die jongelinge het baie geleer en gegroei. Ons kaptein het ook in statuur en in sy rol gegroei. Hy het elke wedstryd met meer selfvertroue gespeel en die spelers het duidelik sy leierskap aanvaar," het Wylie bygevoeg.

 "Ek kan nie nalaat om te praat oor die intensiteit waarmee die spelers geoefen en gespeel het nie – in aanloop tot die toernooi én by die toernooi. Dit was ongelooflik om te sien."

  • Die Maties-bouler Mihlali May is na afloop van die Varsity Krieket-toernooi by die USSA-span ingesluit wat later vanjaar aan die Futures Cup-toernooi sal deelneem. Fenito Mehl is 'n reserwe vir die span.
  • Fotokrediet: SASPA