Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
500 nuwe maroen Matie Fietse te huur
Outeur: Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
Gepubliseer: 01/02/2017

​Dis nie meer blou nie, maar maroen. Dít is die nuwe Matie Fietse wat van begin vanjaar deel vorm van Vervoerdienste se vloot. Die bekende blou Matie Fietse wat op kampus rondry, word nou met die nuwer, opgegradeerde weergawe vervang.

"Ons het die blou fietse in 2012 tweedehands uit Nederland ingevoer. Hoewel dit nog in 'n goeie toestand is, is dit nou nodig om te moderniseer," sê Roelof Loubser, Mobiliteitsbestuurder. "Ons het 'n tender uitgeloof vir die voorsiening van die fietse. Flandria, die bekende fietswinkel op Stellenbosch, het die tender gekry en ons het 500 aangekoop."

"Die nuwe fietse is in dieselfde styl as die blou fietse gebou. Daar is geen ratte nie, maar daar is nou konvensionele remme en nie terugtrapremme nie.  Die fietse pronk ook met die Matie Fiets kenteken en elkeen het 'n nommer tussen 1 en 500." Die nuwe maroen fietse vervang dus in geheel die blou fietse. Die ou fietse sal vanaf Februarie te koop aangebied word. (Kontak Vervoerdienste vir meer inligting hieroor.)

As jy belangstel om een van die nuwe fietse te huur, sal jy moet gou spring. Vervoerdienste verhuur tans ongeveer twintig fietse per dag teen 'n tarief van R2 500 per jaar waarvan R1 500 'n terugbetaalbare deposito is.   

  • Vir meer inligting, skakel Wendy by (021) 808-9071 of fiets_bike@sun.ac.za