Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Reik saam met ons uit na al 120 000 alumni'
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 27/01/2017

Steun die Universiteit Stellenbosch (US) se reis na groter inklusiwiteit, innovering en toekomsgerigtheid. Dit was die boodskap van prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, aan ongeveer 400 Konvokasie-lede by die Konvokasie se Jaarvergadering wat Donderdag, 26 Januarie by die Paul Roos Sentrum op Stellenbosch gehou is.

"Reik saam met ons uit na al 120 000 alumni, ook na ons jong professionele gegradueerdes. Wees saam met ons trots op ons alma mater se vele prestasies en vertrou ons personeel, die Institusionele Forum, die Senaat, die Universiteitsbestuur en die Universiteitsraad om in die beste belang van ons instelling op te tree," het De Villiers gesê.

In sy toespraak het De Villiers gesê dat die Universiteit, ten spyte van uitdagings in die hoëronderwyssektor, 'n uitsonderlike jaar beleef het. "Verlede jaar was in talle opsigte vir die hele hoëronderwyssektor, en vir die US, 'n baie groot uitdaging – onder meer vanweë protesaksie oor transformasie, dekolonisering en studentegelde; verwagtinge van gratis hoëronderwys en finansiële volhoubaarheid na die aankondiging van geen styging in studentegelde vir 2016. Nietemin het ons 'n uitsonderlike jaar van volgehoue prestasie en nuwe hoogtepunte beleef."

Die prestasies sluit onder meer in 'n rekordgetal doktorsgrade toegeken by die onlangse Desembergradeplegtighede; US steeds die Suid-Afrikaanse voorloper wat betref geregistreerde patente; die mees produktiewe Suid-Afrikaanse akademiese instelling in terme van navorsingsuitsette; 'n toename in navorsingsleerstoele en ook filantropiese skenkings.

De Villiers het voorts ook uitgewei oor die US se Taalbeleid en gesê dat dit nie die Afrikaanse taal of Afrikaanse kultuur ondermyn nie en ook nie Afrikaanssprekendes van die geleentheid ontneem om in Afrikaans onderrig te ontvang nie.

Hy het benadruk dat Afrikaans 'n onderrigtaal en 'n akademiese kundigheidsveld bly, en dat die akademiese potensiaal van Afrikaans bevorder sal word deur onder meer Afrikaans te gebruik vir onderrig, navorsing en administrasie; die hou van simposia, aanbiedings van kort kursusse, en die ondersteuning van taalonderwysers.

Twee mosies aanvaar

"Die Taalbeleid moet verseker dat geen student weens ontoereikende vaardigheid in Engels of Afrikaans op grond van taal of ras van die akademiese aanbod uitgesluit word nie; en so ook nie enige personeellid van die werksaamhede van die Universiteit nie. Die Taalbeleid bevorder dus inklusiwiteit en die verbreding van toegang."

Twee mosies, wat beide aanvaar is, is ook tydens Donderdagaand se vergadering gedebatteer.  Die eerste mosie, voor die vergadering ingedien deur Danie Marais het gelui: In ooreenstemming met versoeke sedert 2001 versoek die Konvokasie die Universiteit andermaal om, bo en behalwe enige voorlesings wat in Engels aangebied word, ook 'n volwaardige voorgraadse aanbod met Afrikaans as voertaal aan studente te maak. Die Konvokasie ondersteun ook die hofaansoek wat die tersydestelling van die US se nuwe taalbeleid ten doel het asook die President van die Konvokasie se deelname as 'n applikant in die aansoek.

Die tweede mosie is in reaksie hierop deur JD Blackenberg, US-alumnus en konvokasie-lid, tydens die vergadering ingedien en lees soos volg: Die Konvokasie erken dat 'n wye verskeidenheid van perspektiewe oor die nuwe US Taalbeleid bestaan. Ons versoek dus dat die Uitvoerende Komitee van die Konvokasie en die Rektor se Bestuurspan konstruktiewe intergenerasie dialoë sal reël om 'n groter begrip tussen alle Maties te bevorder, ingeligte debat te verbeter en terselfdertyd die menswaardigheid van alle deelnemers in ag sal neem, ongeag 'n persoon se mening.

Advokaat Jan Heunis, President van die Konvokasie, en voorstander van die behoud van Afrikaans as primêre onderrigtaal by die US, het in sy toespraak gevra vir 'n betekenisvolle en eerlike debat wat deur verdraagsaamheid gekenmerk word en waar almal se standpunte in ag geneem word sonder vrees vir intimidasie en uitsluiting.

Hy het gesê dit is kommerwekkend dat vier Suid-Afrikaanse universiteite binne die bestek van 'n jaar Afrikaans se status as 'n primêre taal van onderrig saam met Engels beëindig het sonder dat daar 'n betekenisvolle verbintenis aangegaan is tot die daadwerklike bevordering van 'n ander inheemse taal as Afrikaans.

"Hierdie universiteit het dikwels in die verlede die leiding op baie terreine geneem en hier is weer 'n gulde geleentheid om 'n tweetalige universiteit van Afrikaans en Engels met sterk ontwikkeling van isiXhosa as onderrigtale uit te bou wat nasionaal en internasionaal navolgingswaardig is."