Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee dekades van getalleteorie by die US
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 25/01/2017

Wiskundiges van oor die hele wêreld het in Januarie 2017 op die Universiteit Stellenbosch (US) toegesak om deel te neem aan die tiende konferensie oor Getalleteorie, wat al sedert 1997 elke twee jaar deur die US en die Afrika Instituut vir Wiskunde (AIMS) aangebied word.

Volgends die US se prof. Florian Breuer, een van die stigterslede van die konferensie en mede-organiseerder, het die konferensies sy ontstaan te danke aan die behoefte om kontak te maak en te netwerk met internasionale kundiges in hierdie studieveld.  

"Oor die jare het die konferensies baie sukses gehad om toonaangewende internasionale leiers op die gebied van Getalleteorie te trek. Hierdie jaar het ons veral 'n groot opkoms gehad met 37 deelnemers uit 12 lande," sê hy.

Die konferensie word finansieel ondersteun deur die US, AIMS en die DWT-NNS Sentrum vir Uitnemendheid in Wiskundige en Statistiese Wetenskappe by die Universiteit van die Witwatersrand.

Die ander organiseerders van vanjaar se konferensie was prof. Barry Green van AIMS en dr. Patrick Rabarison van die Antananarivo Universiteit in Madagaskar.

Die Departement Wiskundige Wetenskappe was ook die gasheer vir die tweede konferensies oor Modelteorie. Hierdie konferensie wat deur die US se Dr Gareth Boxall gereël is in samewerking met dr. Charlotte Kestner van die Universiteit van Sentraal-Lancashire Universiteit in die Verenigde Koninkryk, het 20 deelnemers uit sewe lande getrek.

Dr Boxall sê 'n paar eksperts het reekse praatjies gelewer, soortgelyk aan minikursusse, terwyl ander sprekers losstaande lesings aangebied het: "Ons was hierdie jaar bevoorreg om twee baie prominente senior lede van die modelteoriegemeenskap hier te hê, naamlik prof. Angus Macintyre en prof. Alex Wilkie."

Prof. Macintyre is 'n Britse wiskundige en logikus wat bekend is vir sy werk in Modelteorie, logika en die toepassings daarvan in algebra, algebraïse geometrie en getalleteorie. Hy is tans emeritus professor in wiskunde aan die Queen Mary Universiteit van Londen. Prof. Wilkie is die Fielden-professor in Suiwer Wiskunde aan die Skool vir Wiskunde by die Universiteit van Manchester.

Hierdie konferensie is finansieel ondersteun deur die US, AIMS, en die Vereniging vir Simboliese Logika – 'n internasionale organisasie wat navorsing en kritiese studies in logika ondersteun.

Dr Boxall sê die doel van die konferensie was om die belangstelling te prikkel van kundiges in hierdie studieveld, sowel as die van minder ervare navorsers, ten einde by navorsing in hierdie vakgebied betrokke te raak.

Foto bo: Deelnemers aan die Modelteorie-konferensie wat in Januarie 2017 deur die US se Afdeling Wiskundige Wetenskappe aangebied is (Foto: Florian Breuer). Foto bo aan artikel: Deelnemers aan die konferensie oor Getalleteorie wat ook in Januarie 2017 aangebied is.