Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
“Crowdfunding”-projek om Kayamandi-kinders by fynbosnavorsing te betrek
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 22/01/2017

Die lewe gaan vir PhD-student Joey Hulbert oor meer as net die mikpunt om sy doktorsgraad te behaal oor mikrobes wat siektes onder fynbosplante kan veroorsaak. Hy sê hy sal baie tevrede wees as hy net in die proses soveel moontlik mense – kinders ingesluit – aan die praat kan kry oor navorsing, wetenskap en die natuur. Dis hoekom hy die sogenaamde "crowdfunding"-roete volg om geld in te samel sodat 'n groep kinders van Kayamandi by Stellenbsoch ook die kans kan kry om op 'n uitstappie na plaaslike natuurgebiede te kan gaan.

Dié gedrewe jong man se jongste inisiatief sluit aan by die Cape Citizen Science- projek waarvan hy sedert 2016 die dryfkrag is. Dit gee gereelde stappers en natuurliefhebbers die kans om by sy navorsing betrokke te raak terwyl hulle die buitelewe geniet, en sodoende self sogenaamde "patogeenversamelaars" te word. Hulle kan foto's aan hom stuur van plante wat besig is om te vrek, en ook grond-, water- en plantmonsters vir hom help insamel gedurende hul eie ekskursies. Daardeur ondersteun hulle navorsing oor onontdekte soorte mikrobes wat plantsiektes in die natuurlike fynbosgebiede van die Wes-Kaap kan veroorsaak.

Cape Citizen Science sluit ook uitreikaksies by skole in, en onderwysers word genooi om hul leerders daarby betrokke te kry.

"Die publiek se betrokkenheid is 'n belangrike aspek van die projek, maar tot op hede was dit moeilik om leerders daarby te kon betrek wat nog nie voorheen die voorreg gehad het om die natuur te geniet nie," vertel hy. "Samewerking tussen Cape Citizen Science en die Vision Afrika-organisasie op Stellenbosch het egter onlangs nuwe moontlikhede oopgemaak, vir ons én vir die leerders wat by hul programme baat."

Daarom het Hulbert en sy Cape Citizen Science-assosiate in middel-Januarie 'n sogenaamde skarefinansieringsaksie (soos "crowdfunding" soms in Afrikaans bekend staan) genaamd Engage Kayamandi Youth in Cape Citizen Science with Vision Afrika van stapel gestuur. Hulle gebruik hiervoor 'n Amerikaanse "crowdfunding" platform genaamd Experiment.com wat 'n sterk wetenskapsfokus het.

Die geld wat ingesamel word sal help om leerders van Kayamandi op uitstappies na nabygeleë natuurgebiede te neem, waar hulle Hulbert sal kan help om plante en data in te samel.

Sukses binne een dag

Die aanvanklike befondsingsteiken van 400 Amerikaanse dollars (sowat R5600) is binne die eerste dag bereik, maar die insamelingspoging duur voort. Hulbert sê dat alle fondse wat bo en behalwe die teikenbedrag ingesamel word, sal help om nog leerders by die projek te betrek in samewerking met vennote Vision Afrika of die South African Education and Environment Project.

"Die aktiwiteite wat sodoende befonds sal word, sal leerders die kans gee om self by ons navorsing betrokke te wees," vertel hy. "Elke aktiwiteit sal onder meer die insameling van besmette plante insluit in gebiede waar ons nog nie voorheen opnames gedoen het nie."

"Die beste deel van die projek is die kans wat mens kry om tyd saam met jongmense te spandeer," vertel Hulbert. "Dis vir my belangrik om leerders te inspireer en te wys dat enigiemand 'n navorser kan wees."

"Ek dink ek sal my grootste positiewe impak op die planeet kan maak deur bloot as skakel tussen wetenskaplikes en die publiek op te tree ," glo hy.

Navorsingswerk oor Phytopthora-spesies in fynbosgebiede

Hulbert wéet dat "crowdfunding" werk. Hy het dit in 2015 die eerste keer ingespan om 5000  Amerikaanse dollars in te samel om die Cape Citizen Science-projek van die grond af te kry. Die webblad www.citsci.co.za kon onder meer daardeur op die been gebring word. Dit verskaf volledige inligting aan onderwysers en lede van die publiek oor hoe hulle self hul lyf navorsers kan hou (en so sogenaamde "citizen scientists" kan word) en oor hoe hulle tot sy navorsingsprojek kan bydra.

"Die sukses daarvan wys net vir my hoeveel ongelooflike ondersteuning daar vir hierdie soort uitreikaksie en navorsing is," reken 'n dankbare Hulbert.

Navorsing oor Phythophtora-spesies in fynbosgebiede

Hulbert het in die VSA grootgeword. Hy het in Augustus 2015 na Suid-Afrika verhuis om sy doktorsgraad in plantpatologie te doen onder leiding van onder meer prof Mike Wingfield van die Universiteit van Pretoria se DWT-NNS Sentrum van Uitnemendheid vir biotegnologie gemik op die bevordering van boomgesondheid ("Tree Health Biotechnology") en die  Instituut vir Bosbou- en Landboubiotegnologie (FABI). 

Hy bestudeer die impak en verskeidenheid van verskillende soorte Phytopthora-mikrobes wat in die Kaapse Blommeryk gevind word. Omdat sy navorsing op fynbosplante fokus, is hy sedert Junie 2016 'n navorsingsaffiliaat van die Universiteit Stellenbosch se Departement Bewaringsekologie en Entomologie. Na sy skuif Stellenbosch toe doen hy meeste van sy navorsingswerk in die Diversiteit- en Simbioselaboratorium van een van sy ander studieleiers, dr Francois Roets van die Universiteit Stellenbosch.

Wêreldwyd is reeds meer as 150 spesies Phytophtora geïdentifiseer, maar navorsers vermoed dat daar nog vele meer is om te ontdek. Afhangende van die spesifieke spesie betrokke kan Phytophtora-mikrobes verwoestende siektes veroorsaak in die wortelstelsels van onder meer aartappels, eikebome en wingerde.

"Phytophthora cinnamomi is byvoorbeeld die oorsaak van wortelvrot in baie plante in my ondersoekgebiede, maar min is eintlik nog bekend oor die impak en verskeidenheid van ander soorte Phytophthora-spesies in die Kaapse Blommeryk," voeg hy by.

Vir meer inligting of om die Kayamandi uitruikprojek te ondersteun, besoek http://experiment.com/africa. Om meer oor die Cape Citizen Science-projek te leer, besoek www.scisci.co.za