Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verwelkomingsprogram vir nuwe Maties
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 13/12/2016

Die webtuiste www.sun.ac.za/welkom is nuwe Maties se raakvat-plek oor die Universiteit Stellenbosch se verwelkomingsprogram vir Januarie 2017. 'n Spesifieke skedule van aktiwiteite is hier beskikbaar.
Terwyl die Universiteit amptelik 3 Januarie weer oopmaak, skop die verwelkomingsprogram af op 19 Januarie 2017. Die amptelike verwelkomingsgeleentheid  vir studente en hul ouers/voogde vind daardie middag om 18:00 tot 19:00 in die Danie Craven Stadion op Coetzenburg plaas. Verskeie ander geleenthede en ontmoetings is vir die dag geskeduleer, onder meer ook ‘n ontmoeting vir ouers/voogde met die dekane van die verskillende fakulteite.
Let op wanneer die verpligte fakulteitsessies en registrasie plaasvind, en wanneer die klusters, PSO-wyke (Privaatstudente-organisasies) en koshuise bymekaar kom.

Die webtuiste bevat belangrike inligting oor, onder meer, die biblioteek en inligtingsdiens; hoe jy kan registreer; vervoer gedurende verwelkoming; parkeerreëlings vir die eerste dag; inligtingsessie vir studente met spesiale leerbehoeftes; die verskillende ondersteuningsdienste én hoe om jou veiligheid op kampus en in die dorp te help verseker. Nuwe Maties kan by hul eerste kluster-, PSO- of koshuisbyeenkoms ‘n gedrukte kopie van die volledige verwelkomingsprogram ontvang.  Dit sal besonderhede van die dag-tot-dag verloop van die volle verwelkomingsperiode aandui.  In Januarie sal dit ook in elektroniese formaat op die webtuiste beskikbaar wees.
Dit is belangrik om te let daarop dat PSO-wyke en klusters nie koshuise is nie en dus nie huisvesting aan studente bied nie. Dit is studentegemeenskappe waaraan studente behoort. ‘n PSO-wyk sluit ‘n groep studente in wat in privaat-huisvesting woon; en klusters beskryf ‘n groepering van koshuise en PSO-wyke.

Die Universiteit kan bereik word op 021 808 9111 of info@sun.ac.za.