Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Na 34 jaar as insekkundige kry Elleunorah ‘n PhD oor die blaaspootjie
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 12/12/2016

​Het jy al ooit 'n blom soos 'n aster oor jou hand uitgeskud, en sulke donker of strooikleurige strepies sien kriewel, skaars 1,5 mm groot? Dis heel moontlik blaaspootjies daardie. Sou jy dié insekte verder onder die mikroskoop beskou, sal jy sulke kleine blasies op hul pote sien.

westelike blomblaaspootjie.JPG

"Die insek het sulke klein blassies waarmee dit vasklou aan oppervlaktes soos blare," vertel insekkundige dr Elleunorah Allsopp van die Landbounavorsingsraad (LNR) wat in Desember 2016 haar doktorsgraad in entomologie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.

Sommige spesies blaaspootjies is vir diegene wat met groente, blomme of vrugte boer 'n kopseer. Daarom het dr Allsopp as deel van haar doktorsgraadstudies ondersoek hoe  om dié insekte vanaf vrugte af te weer danksy meer natuurlike metodes soos die gebruik van essensiële plantolies.

Sy werk as insekkundige by die LNR se Infruitec-Nietvoorbij Instituut op Stellenbosch. In haar huishouding word gereeld oor insekte gepraat, want sy's getroud met Mike Allsopp, bekende byenavorser van die LNR op Stellenbosch.

PhD op 57 jaar oud

Dr Allsopp het die eerste keer met haar studie-onderwerp, die uitheemse westelike blomblaaspootjie (Frankliniella occidentalis) te doen gekry toe sy in 1999 die voorkoms van dié insekte by tafeldruiwe in die Heksriviervallei bestudeer het. Twee verdere projekte wat deur die Suid-Afrikaanse steenvrugtebedryf ondersteun is, het vrugbare inhoud tot haar doktorsgraad verleen.

Sy't dit op 57-jarige leeftyd verwerf, op 'n ouderdom wanneer baie ander mense dalk al eerder begin aftreeplanne maak. Haar tesis is so te sê die kulminasie van 'n loopbaan van by die 34 jaar wat gewy is aan die planmaak rondom hoe om landbouverwante peste in wingerde en op sagtevrugteplase te beheer en te bestry.

Sy reken daar's waarde daarin om eers 'n PhD op 'n ryper ouderdom aan te pak. "Jou verwysingsveld danksy jare se ondervinding is soveel wyer, en maak dit makliker om 'n mens se navorsingbevindinge beter binne die groter konteks te kan plaas."  

Haar loopbaan in die landboubedryf is een wat sy nie sommer sal verruil nie – al het sy byna toevallig daarin beland weens die reëls van die destydse staatdiensburokrasie. Toe sy in 1977 aan die Hoëskool Jan van Riebeek in Kaapstad gematrikuleer het, wou sy eintlik 'n BSc met dierkunde studeer. In daardie jare mag slegs mans egter aansoek doen vir staatsdiensbeurse om in dié rigting te studeer.

"Om een of ander rede kon meisies wel vir beurse vir BSc Agric aansoek doen," onthou sy hoe dit gekom het dat sy met 'n landboukursus aan die Vrystaatse Universiteit begin  het. Dierkunde was nie 'n hoofvakkeuse binne die landboufakulteit nie, maar insektekunde wel. So het haar jarelange fassinasie met die insektewêreld begin.

Sedert sy in 1982 by Nietvoorbij begin werk het, in 'n tyd toe dit nog by die Departement Landbou geaffilieer was, het sy onder meer navorsing gedoen op blaaspringers en witluise by wingerd. Sedert 1997 is sy as tegniese adviseur en plaasouditeur betrokke by die Wyn- en Spiritusraad se nasionale skema vir die geïntegreerde produksie van wyn (IPW). Dit fokus op omgewingsvolhoubare druiwe- en wynproduksie.

Dr Allsopp beskou navorsers as  speurders wat die geheimenisse van die natuur ondersoek. "Ons bedryfsgerigte werk help om die wingerd- en vrugtebedrywe te bou," vertel sy heel filosofies oor die bydrae wat navorsers soos sy maak. "Elkeen van ons projekte is 'n bousteen in die 'bedryfsgebou'.  Jy weet dus dat hierdie en daardie steen deur jou werk bygedra is."

"Jy bou nie net 'n loopbaan nie, maar ook iets groter as jyself," voeg sy by.

Die beheer van blaaspootjies in pruimboorde

Blaaspootjie kom baie algemeen voor, en ook in die natuurgebiede rondom boorde. Daarom is dit bykans onmoontlik om hulle heeltemal uit te roei.

In haar tesis vat dr Allsopp haar navorsing saam oor sekere meer natuurlike alternatiewe wat buiten gifstowwe gebruik kan word om die ekonomiese skade wat die skadelike westelike blomblaaspootjie by pruime kan aanrig, te beperk.

Sy het onder meer bevind dat hierdie blaaspootjies in pruimbloeisels inklim nog voordat die blommetjies behoorlik oopmaak, om dan hulle eiers in die blomdele te lê. In die proses vorm oppervlakkige maar skadelose letsels (sogenaamde "pansy spots") op die ontwikkelende pruime. Dit kan veroorsaak dat die vrugte 'n laer gradering kry op die uitvoermark of selfs afgekeur word.

Die vroeë stadium waarop die insek in die bloeisel intrek beteken die normale bespuitings tydens blomtyd kan nie juis hierdie skade voorkom  nie. Chemikalieë sal dus aangewend moet word nog voor die bloeisels die ballonstadium bereik om die eierleggingskade te voorkom.

Volgens dr Allsopp moet dekgewasse of onkruid in die boord wat op dieselfde tyd as die pruime blom, liefs net so laat staan word. "Sou jy die onkruid nou afsny, jaag jy die blaaspootjies daarin almal in die pruimbome in," reken sy.

As deel van haar PhD het dr Allsopp ook die ontwikkeling van 'n sogenaamde afweer-aanlok stelsel ondersoek om sulke eierleggingskade deur blaaspootjies in pruimboorde te verminder. Haar proewe het gewys dat die essensiële plantolies timol, metielsalisilaat en karvakrol 'n afwerende effek op die blaaspootjies het en dat minder eiers in die bloeisels gelê word wanneer die olies op die bloeisels gespuit word. Wit klawerblomme is op hul beurt baie aantreklik vir die westelike blomblaaspootjie, en toon belofte om as 'n vangoes langs boorde geplant te word (die "aanlok"-gedeelte van die strategie).

Die presiese formulasies waarin die essensiële olies aangewend word, moet deur verdere navorsing bepaal word sodat die strategie in die praktyk getoets kan word.