Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
IPB vier en kyk terug op 2016
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 08/12/2016

Ter afsluiting van 'n suksesvolle 2016 het studente en personeellede van die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB) op Vrydag 2 Desember byeengekom om oor navorsingsvordering verslag te doen en daarna by die jaareindgeselligheid te ontspan.

Alle nagraadse studente by die IPB moet sesmaandeliks oor hulle vordering met hulle navorsingsprojekte verslag doen. Die navorsingsdag dien as 'n platform vir studente om hulle portuur en studieleiers te beïndruk met die resultate van hulle laboratoriumwerk gedurende die vorige ses maande. Personeellede benut ook hierdie geleentheid om moontlike eksperimentele probleme en tekortkominge uit te wys sodat nagraadse studente hulle navorsing en tesisse in die kortste moontlike tyd kan voltooi.

Die navorsingskomponent van die dag is gevolg deur 'n middagbyeenkoms by die Swaaibrug, Stellenbosch, waar studente en personeellede met peuselhappies op die skaduryke grasperke uitgespan het. Dié met oortollige energie het sokker- of rugbyballe rondgeskop (tot nadeel van 'n paar koppe en kosborde), strandtennis op die proef gestel of akrobatiese oefenbewegings uitgehaal. Die ontspanne middag is afgesluit met 'n spitbraai en 'n soetigheid. Die IPB bedank graag mev Pauliane Davidse wat dié genotvolle dag gereël het.

Daarbenewens is die IPB trots op sy ses BSc-honneurs- en sewe magisterstudente wat hulle nagraadse kwalifikasies suksesvol voltooi het. Hierdie grade sal by die Desember-gradeplegtigheid van die Fakulteit Natuurwetenskappe oorhandig word, waarmee die amptelike bedrywighede van IPB-lede vir 2016 ook tot 'n einde kom. Geluk aan al ons studente met hulle goeie werk die afgelope jaar.

IPB einde 2016.jpg