Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
IPB verteenwoordig by EU-tafelronde oor stysel
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 08/12/2016

Dr James Lloyd van die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB) het in November 2016 die vierde Europese tafelronde oor stysel in Lille, Frankryk, bygewoon. By dié geleentheid, wat uitsluitlik oor styselbiologie en -tegnologie handel, het individue uit die akademie en die bedryf byeengekom om kennis en nuwe idees oor styselnavorsing, -ontwikkeling en -verkope uit te ruil. Stysel het uiters veelsydige toepassings, en onderwerpe soos styselbiosintese, -struktuur, -funksionaliteit en -aanpassing was hoog op die agenda.

Dr Lloyd het die hoofrede getiteld Manipulation of polyglucan bound phosphate in plants and bacteria: New pathways and improved industrial starches gelewer. Hy is sedert 1995 besig met styselnavorsing en het reeds verskeie artikels oor styselsintese en -ontbinding in internasionale portuurbeoordeelde vaktydskrifte gepubliseer. Sy praatjie het onder meer gehandel oor die werk van die IPB se dr Ebrahim Samodien, een van Lloyd se voormalige PhD-studente, wat plante ontwikkel het wat stysel met 'n hoër konsentrasie kovalent gebinde fosfaat sintetiseer. Die bedryf kan die stysel van hierdie plante doeltreffender benut aangesien dit nie chemies aangepas hoef te word voor gebruik nie.

Group photo.jpg

Deelnemers  aan die konferensie by die Universiteit van Lille.