Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Inheemse kos kan bydra tot voedselsekerheid
Outeur: Alec Basson
Gepubliseer: 26/10/2016

Inheemse kos kan ʼn bydrae lewer tot voedselsekerheid, die uitwissing van hongerte en armoede, asook die voorkoming van siektes in Afrika.

Só het prof Xikombiso Mbhenyane van die Afdeling Menslike Voeding aan die Universiteit Stellenbosch (US) in haar intreerede op Dinsdag (25 Oktober 2016) gesê. Die geleentheid het in die Onderwys-gebou op die US se Tygerbergkampus plaasgevind.

Mbhenyane het gesê inheemse kosse (inheemse vrugte, groente, knolle en wortels) kan die gehalte van diëte help verbeter en voedsel- en voedingsekerheid bevorder.

"Studies uit Suid-Afrika en die res van die wêreld lewer voldoende bewyse dat baie huishoudings inheemse kos eet, veral in gebiede waar dit beskikbaar is, en dus kan dit 'n belangrike rol speel om voedselonsekerheid te verlig."

"Baie landelike gemeenskappe het toegang tot tradisionele gewasse ryk aan mikrovoedingstowwe, wat waarskynlik as 'n langtermyn-strategie kan dien om voedselonsekerheid uit te wis."

"Die diversiteit van inheemse gewasse het die potensiaal om die voedingsamestelling van families se diëte aan te vul en kan bydra tot huishoudelike voedselsekerheid en die verligting van verborge honger (hidden hunger) weens 'n gebrek aan 'n afwisselende dieet wat gewoonlik met die eet van te min vrugte en groente verband hou."

Mbhenyane het gesê die onderbenutting van inheemse gewasse bied 'n geleentheid om alternatiewe voedselbronne deel te maak van landelike voedselsisteme.

"Daar word erken dat inheemse kos en ʼn afwisselende dieet in 'n ekosisteem goeie bronne van voedingstowwe kan wees en goeie gesondheid kan bevorder."Mbhenyane_smallgroup.jpg

Mbhenyane meen voedselonsekerheid is 'n groot probleem in ontwikkelende lande, insluitend Suid-Afrika, waar dit kan lei tot hongersnood, wanvoeding, negatiewe gevolge vir gesondheid en lewenskwaliteit, en sosiale en ekonomiese ontwikkeling kan raak.

Sy het gesê baie Suid-Afrikaners is óf voedselonseker óf loop die risiko om honger te ly.

"Meer onlangs het die South African National Health and Nutrition Examination Survey berig dat net 45,6% van die Suid-Afrikaanse bevolking voedselseker is. Die grootste persentasie van deelnemers wat voedselonsekerheid ervaar het was woonagtig in informele nedersettings in stede (32,4%) en landelike gebiede (37.0%)."

Beleide wat die potensiële voedingswaarde van veral inheemse kos wat in arm gemeenskappe geoes word erken, sal nodig wees om voedselonsekerheid aan te spreek, het Mbhenyane gesê.

Mbhenyane het gesê die verbruik van inheemse kos het afgeneem omdat dit nie in moderne en geïndustrialiseerde markte beskikbaar is nie en ook weens 'n gebrek aan beleggings in navorsing en ontwikkeling. Sy het bygevoeg dat daar nie genoeg inligting beskikbaar is ten opsigte van voedingswaarde van inheemse kos nie.

Mbhenyane was egter optimisties oor globale en nasionale pogings om voedselonsekerheid te verlig en die rol wat inheemse kos in die verband kan speel.

Onder hierdie tel die tweede van die Verenigde Nasies se Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling wat die belangrikheid van voedsel- en voedingsekerheid beklemtoon, die nuwe Suid-Afrikaanse Nasionale Beleid oor Voedsel en Voedingsekerheid, en die Landbounavorsingsraad wat sedert 1994 inheemse kos vir voedsel- en voedingsekerheid deur middel van navorsing bevorder.

Mbhenyane het gesê die Beleid oor Voedsel en Voedingsekerheid stel die bevordering van inheemse gewasse vir produksie en verbruik voor. Hierdie gewasse bevat meer mikrovoedingstowwe as konvensionele groente soos kool en blaarslaai.

"Verhoogde verbruik van hierdie inheemse groente sal 'n groter vraag, verhoogde produksie en die skep van markte tot gevolg hê en sal dus landelike ekonomieë verbeter."

Mbhenyane het gesê daar is ʼn behoefte aan 'n sterk voedsel- en voedingstelsel wat mense as verbruikers en gemeenskappe as die sentrale fokus betrek en ook die benutting van inheemse kos bevorder en bewaar.

ʼn Goeie, volgehoue voedingstatus kan slegs ʼn werklikheid word wanneer individue binne families en gemeenskappe voedselseker is, het sy bygevoeg.

  • Foto 1: Pixabay
  • Foto 2: Profs Eugene Cloete, Vise-rektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, Xikombiso Mbhenyane, en Jimmy Volmink, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, by die intreerede.