Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Galakonsert vier 60-jaar van uitnemendheid
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 25/10/2016

​Vanjaar se Galakonsert was meer as net "'n viering van diversiteit" – soos die slagspreuk beloof – dit was ook 'n viering van die Fakulteit se 60ste herdenking.

"Vanjaar is ons Fakulteit 60, en soos 'n goeie rooiwyn, word dit net beter met die tyd. Aangesien die Galakonsert vanjaar met hierdie belangrike mylpaal saamval, het ons besluit om dié geleentheid op te dra aan al die mans en vroue wat bygedra het tot die Fakulteit se sukses oor die afgelope ses dekades," het prof Jimmy Volmink, Dekaan van Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), gesê.

"Ons gee erkenning aan die visioenêre individue wat die Fakulteit in 1956 tot stand gebring het, diegene wat hard gewerk het aan die bou en instandhouding oor al die jare, en dié wat bygedra het tot die vlak van uitnemendheid waarvoor die Fakulteit vandag bekend is," het Volmink gesê.

Die konsert, wat op Vrydag 7 Oktober by die Hugo Lambrechts Ouditorium in Parow plaasgevind het, het die voorste talent by die FGGW ten toon gestel.

Die program het bestaan uit 22 uiteenlopende vertonings deur studente en personeel by die Fakulteit, en het ook 'n 12-jarige gaskunstenaar, Qden Blaauw (prof Quinette Louw van Fisioterapie se seun) ingesluit,  wat 'n inspirerende vertoning op die klavier gelewer het van Franz Liszt se Valse Impromptu.

Soos gewoonlik het die Universiteit Stellenbosch se Mediese Orkes (SUMO), onderleiding van die dirigent Regardt Kühn, die verrigtinge afgeskop met 'n paar klassieke deuntjies, en na aanleiding van die 60-jaar tema ook 'n samestelling van Elvis Presley se liedjies uitgevoer.

Osler-dames se sêrgroep het 'n byblywende vertoning gelewer van hedendaagse liedjies, terwyl sangers, dansers en musikante die gehoor vermaak het tot laatnag.

In 'n onvergeetlike vertoning het die Tygerberg-Gospelkoor liedjies in verskeie tale uitgevoer, en die eerstejaar mediese student, Vuyo Funani, het 'n emosionele voordrag gelewer van sy gedig getiteld "Painless".

Twee buitengewone items was die mediese student en mode-ontwerper, Astrid Sass, se modeparade waartydens haar uitrustings vertoon is, terwyl die harpspeler Suné van der Westhuizen 'n betowerende uitvoering gelewer het van Louis Spohr se Fantasia in C mineur op 35.

Foto: Osler ladies sêr