Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie-netbalspelers dra groen en goud in Australië
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 25/10/2016

Twee Matie-netbalspelers is op pad na Australië om Suid-Afrika in Melbourne by die "Fast Five"-wêreldreekstoernooi te verteenwoordig.

Dit word op 29 en 30 Oktober aangebied en ander lande wat deelneem is Australië, Nieu-Seeland, Engeland, Jamaika en Malawi.

Juline Rossouw, Maties se kaptein in die Varsity Netbal-reeks, en Charmaine Baard het die afgelope naweek by die res van die span aangesluit.

Albei van hulle hét al vanjaar die geleentheid gehad om hul land te verteenwoordig.

Rossouw is vroeër die maand in die Proteas-span opgeneem wat die Diamant-uitdaagreeks (Diamond Challenge) tussen Suid-Afrika, Zimbabwe, Uganda en die SA Presidentspan gewen het, terwyl Baard 'n lid was van die Suid-Afrikaanse o.21-span wat in 'n toetsreeks teen Wallis gespeel het en ook na Botswana gereis het om aan 'n kwalifiserende ronde vir die o.21 Wêreldbeker-netbaltoernooi (Netball World Youth Cup) deel te neem. Suid-Afrika het al sy wedstryde gewen en gekwalifiseer om volgende jaar aan die toernooi deel te neem.

Hulle het ook albei in Julie saam met die Suid-Afrikaanse universiteitespan na Miami gereis om aan die Wêrelduniversiteite-netbaltoernooi deel te neem. Suid-Afrika het hierdie toernooi gewen.

Rossouw het gesê sy is baie opgewonde oor nog 'n geleentheid om in die groen en goud te speel.

"Dis 'n absolute voorreg en ek is baie dankbaar. Ek sien baie uit daarna om teen die beste spelers in die wêreld te speel. Dis 'n ongelooflike geleentheid om as speler te groei en verder tot die beste van my vermoë te ontwikkel."

Baard is oorstelp van vreugde oor hierdie geleentheid.

"Ek gaan teen spelers speel wat ek al baie jare bewonder. Ek sukkel nog om dit te glo," het sy gesê.

Hulle is albei studente in die Fakulteit Opvoedkunde.