Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dekaansbeurs geskep om finalejaar-onderwysstudente te help
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 17/10/2016

Goeie onderwysers is noodsaaklik om die globale leerkrisis op te los en die gaping tussen onderrig van swak gehalte en onderrig van goeie gehalte te verklein.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het dus die skepping van 'n beursfonds goedgekeur vir onderwysstudente in hul finale jaar wat akademies presteer en die potensiaal het om 'n beduidende verskil as onderwysers te maak, maar wat finansiële hulp benodig.

"Dit is van kardinale belang dat alle leerders onderwysers het wat goed opgelei is, gemotiveerd is, in staat is om leer te bevorder en ondersteun word deur onderrigstelsels wat goed bestuur word," sê prof Maureen Robinson, Dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde.

"Al ontvang 65,5% van alle geregistreerde BEd-studente reeds finansiële ondersteuning in die vorm van beurse, dek dit dikwels net 'n deel van die studiekostes.

"Hierdie beurs sal bykomend tot bestaande US-ondersteuningsfondse wees en sal toegeken word aan 'n uitstaande BEd-student in sy/haar finale jaar wat finansiële hulp benodig. Die akademiese prestasie van die student sal in ag geneem word, maar wat egter die belangrikste sal wees, is die keuringspaneel se bevinding dat hierdie student die potensiaal het om 'n beduidende bydrae in die lewe van toekomstige leerders te maak."

Die beurshouer sal dan ook die bykomende verantwoordelikheid in sy/haar finale jaar hê om as mentor vir jonger studente op te tree.

"Ons weet dat baie faktore bydra tot 'n leerder se akademiese prestasie. Navorsing dui egter aan dat wanneer mens na skoolverwante faktore kyk, onderwysers die grootste rol speel," voeg prof Robinson by.

Die eerste Dekaansbeurs sal in 2016 aan 'n student wat in 2017 in sy/haar finale jaar is, toegeken word.

As jy graag 'n bydrae tot hierdie spesifieke beursfonds wil maak, kontak asseblief die fakulteitsbestuurder Robert van Staden by 021 808 3960 of rwvs@sun.ac.za. Geen bydrae is te klein nie.