Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gesogte genootskap aan navorser toegeken
Outeur: Mandi Barnard
Gepubliseer: 30/09/2016

Me Nafiisah Chotun is een van drie vrouenavorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat ingesluit is by ʼn groep van slegs 14 vroue wat as van die beste navorsers in die lande suid van die Sahara aangewys is. ʼn L'Oreal-UNESCO Regional Fellowship For Women in Science (FWIS) is tydens ʼn geleentheid op Woensdag, 28 September in Johannesburg aan hulle toegeken.

Dr Raquel Garcia van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe het ʼn nadoktorale genootskap ontvang. Chotun en me Penelope Dobrowsky, ook van Natuurwetenskappe, het elk ʼn doktorale genootskap ontvang.

Chotun, ʼn PhD-kandidaat by die Afdeling Geneeskundige Virologie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, doen navorsing oor die risiko-profiel van lewerkanker wat verband hou met die hepatitis B-virus (HBV) by ʼn Wes-Kaapse bevolkingsgroep wat nog nie voorheen vir dié virus getoets is nie.

Pasiënte met chroniese HBV-infeksie ontwikkel dekades later lewerkanker. In die lande suid van die Sahara word ʼn ander siektepatroon van kwaadaardige ontwikkeling bespeur, aangesien die siekte op ʼn vroeë ouderdom voorkom, dikwels by mans in die vroeë- en middelstadia van volwassenheid.

"My PhD-projek bestaan uit drie studies waarmee ek verskillende aspekte van HBV-verwante lewerkanker binne ʼn Afrika-konteks ondersoek," het Chotun verduidelik.

Vir haar eerste studie gebruik sy verskillende tegnieke om deoksiribonukleïnesuur- (DNS) volgordebepalings te doen om genetiese merkers te identifiseer wat tot lewerkanker kan lei. Hierdie merkers se kenmerke is nog nie in lande suid van die Sahara aangeteken nie.

Vir die tweede studie gebruik sy ʼn sneltoets om die voorkoms van HBV onder ʼn groep Suid-Afrikaners, wat andersins gesond is, te toets. Sy sal ook hulle ontvanklikheid vir die toetse en die hoofredes waarom hulle nie getoets wil word nie, ondersoek. Die uitslae van hierdie studie sal wetenskaplike bewyse lewer ter ondersteuning van ʼn projek waarmee geteikende HBV-toetse in hulpbronbeperkte omgewings gedoen kan word, soortgelyk aan die studies wat gedoen is om MIV-toetsing te bewerkstellig.

"Chroniese HBV-infeksie is asimptomaties, wat beteken teen die tyd wat die infeksie in kanker ontwikkel het, is dit baiekeer te laat vir behandeling. Daarom is dit so belangrik om roetine-toetse vir HBV aan die algemene publiek beskikbaar te stel," het Chotun verduidelik.

Vir die derde studie sal sy heel eksoom-ontleding (waarmee die proteïenkodering van die menslike genoom geteiken word) uitvoer op pasiënte met vroeë stadiums van lewerkanker. Hiermee wil sy enige mutasies wat hulle vatbaar kon maak vir die ontwikkeling van lewerkanker identifiseer.

"Die bevindings sal die basis vorm vir die ontwikkeling van ʼn algoritme om diegene met die hoogste risiko om lewerkanker te ontwikkel, te identifieer sodat hulle vroegtydig getoets kan word en vroeë behandeling kan ontvang," het Chotun gesê.

"Die toekenning is ʼn geleentheid om die publiek se aandag te vestig op die navorsing wat ons oor HBV doen en sal mense hopelik meer bewus maak van die onderwerp. Veral omdat dit ʼn siekte is wat nie baie aandag geniet in lande suid van die Sahara nie, ten spyte van die vernietigende gevolge," het Chotun beklemtoon.

Dit het haar ook verder oortuig dat sy betekenisvolle navorsing doen waaruit die mense van Afrika voordeel kan trek. "As ʼn PhD-student kan ʼn mens maklik glo jy is die enigste een wat dink jou navorsing is die moeite werd. Die beoordelaars is egter objektief en hulle besluit om my projek uit die amper 400 inskrywings te kies was beslis ʼn bevestiging van die waarde van my navorsing."

Chotun het grootgeword in die Republiek van Mauritius, waar sy by die Queen Elizabeth College skoolgegaan het. Sy het daarna in Indië gaan studeer en ʼn BSc-graad aan die Universiteit van Bangalore te verwerf en toe besluit om haar nagraadse studies in Suid-Afrika voort te sit. Nadat sy ʼn Honneursgraad aan die Universiteit van KwaZulu-Natal behaal het, het sy by die navorsingspan van die US se Afdeling Geneeskundige Virologie aangesluit waar sy haar Meestersgraad voltooi het en tans aan haar PhD werk.

L'Oréal-UNESCO

Sedert 1998, het die L'Oréal-UNESCO For Women in Science Programme meer as 2 250 vroue wêreldwyd ondersteun. Die manifes, For Women in Science, wat onlangs bekend gestel is, is alreeds deur talle mense regoor die wêreld onderteken. Hiermee word daar beplan om ʼn standpunt in te neem teen die onderverteenwoordiging van vroue in die wetenskap. Dit is beskikbaar by http://www.forwomeninscience.com vir enigiemand wat die saak wil ondersteun.

Foto: Me Nafiisah Chotun by die plakkaat wat sy by die Vroue in Wetenskap-funksie aangebied het.