Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Het jy die nodige eienskappe om jou droom loopbaan te bou?
Outeur: Development & Alumni/Ontwikkeling & Alumni-betrekkinge
Gepubliseer: 30/09/2016

Het jy die nodige eienskappe om jou droom loopbaan te bou? Dit is die vraag waarmee die Kantoor vir Alumni-betrekkinge studente sal help tydens 'n reeks Loopbaankafee-sessies wat in Oktober begin. Die kafees sal deur Alumni-betrekkinge, in samewerking met verskeie fakulteite aan die Universiteit Stellenbosch (US), aangebied word.

Die eerste van hierdie Loopbaankafees, in samewerking met die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, word op 12 Oktober aangebied in die vorm van 'n TedTalk-tipe praatjie deur Google SA se grootbaas, Luke McKend. 'n alumnus van die Fakulteit.

McKend het 'n BA-graad in Engels en Filosofie behaal en nadat hy vir verskeie aanlyn-maatskappye oorsee gewerk het, sluit hy in 2007 by Google in die Verenigde Koninkryk (VK) aan. Hy het oor die jare met van Google se grootste kliënte gewerk waar hy hul digitale bemarkingstrategieë oor 'n verskeidenheid industrië in die VK ontwikkel het. Tans is hy verantwoordelik vir die uitbrei van Google se belange hier in Suid-Afrika.

Die Kantoor vir Alumni-betrekkinge hoop om deur middel van hul vennootskap met die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe 'n platform vir alumni te skep waar hulle op 'n ander manier met die Universiteit kan skakel deur hul tyd en vaardighede aan te bied om studente vir hul gekose loopbane te help voorberei.

"Hoewel ons altyd baie dankbaar en waarderend is vir die volgehoue finansiële bydraes en skenkings van ons alumni, is dit nie die enigste manier hoe alumni die universiteit en fakulteite kan ondersteun nie. Ons het besef dat daar alumni is wat baie graag aan hul universiteit iets wil teruggee, maar dat baie verkies of slegs beskikbaar is om hul tyd en vaardighede, wat albei  baie waardevolle hulpbronne is, aan te bied," sê mnr Shaun Stuart, Bestuurder: Alumni-betrekkinge aan die US.

In 'n gegradueerdes-bestemmingopname wat deur die Kaapse Konsortium vir Hoër Onderwys (CHEC) onder 'n groep van die 2010-gegradueerdes van universiteite in die Wes-Kaap gedoen was, word aangedui dat die US die laagste aantal – 4,1% - van werklose gegradueerdes in Suid-Afrika in 2012 gehad het. Nog 'n kommer was die globale tendens wat aandui dat terwyl graadstudies studente mag toerus vir die loopbane wat hulle in die toekoms sal hê, die studente dikwels die nodige 'sagte' vaardighede soos kommunikasie, tydsbestuur, konflikresolusie, aanbiedings-en interpersoonlike vaardighede, wat nodig is om in die werksplek uit te blink, ontbreek.

"So terwyl hierdie instelling en ons fakulteite ons studente toerus met die relevante vaardighede en kennis om die werk te verrig wat van hulle verwag word wanneer hulle die werksplek betree en soos dit betrekking het op hulle spesifieke grade, besef ons dat daar is ook 'n behoefte is om te fokus op die verbetering van ons studente se 'sagte' vaardighede op die lange duur."

Die eerste Loopbaankafee in Oktober sal die universiteit die kans bied om presies dít te doen en ook terselfdertyd meer persoonlike verhoudinge met alumni te bou.

"Hierdie is deel  van 'n groter veldtog van die universiteit om met ons alumni te skakel in 'n verskeidenheid van betekenisvolle wyses, om meer intieme verhoudinge tussen alumni en hul fakulteite te vorm en ook om  ons toekomstige alumni  te inspireer om verder as net hul lewens by die universiteit te kyk en nou al te begin werk aan die loopbaan wat hulle begeer."

Uitnodigings is reeds aan studente van die Fakulteit gestuur en diegene wat hul plek bespreek sal 'n gratis  middagete, wat hulle tydens die praatjie kan geniet, ontvang. Dié praatjie sal tussen 13:00 en 13:50 in Kamer 230 van die Lettere-gebou gehou word. Studente word ook aangemoedig om die Universiteit asook die Alumni-kantoor op Facebook te volg om sodoende meer inligting oor die praatjie te bekom. Studente kan ook vir die Facebook-kompetisie inskryf en 'n kans staan om 'n aandete (op dieselfde dag as die praatjie) saam met Luke en ander lede van die Fakulteit en Alumni-kantoor te wen.

"Dit sal 'n wonderlike manier vir twee van ons studente wees om Luke van nader te leer ken," sê Stuart.

  • 'n Opname sal na afloop van die geleentheid onder die studente gedoen word om wyses hoe die Kafee-sessies verbeter kan word, te bepaal. Een gelukkige student staan 'n kans om 'n geskenkbewys vir twee by Hudsons in Stellenbosch te wen. Indien jy hierdie geleentheid wil volg, gebruik #BuildYourCareer |#BouJouLoopbaan and #SUCareersCafe | #USLoopbaanKafee op sosiale media.