Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kollig val op beurse en befondsing
Outeur: Development & Alumni Relations/Ontwikkeling & Alumni-betrekkinge
Gepubliseer: 30/09/2016

Hoekom is dit belangrik om beurse aan talentvolle en verdienstelike studente te bied en watter verskil maak die Universiteit Stellenbosch (US) se voorbereidingsprogramme in hierdie studente se lewens? Dit was van die vrae wat by 'n onlangse geleentheid in Stellenbosch beantwoord is.

Die geleentheid is bygewoon deur verskeie professionele sakelui, waar die kollig op twee van die US se vlagskip universiteitsvoorbereidingsprogramme, SciMathUS (Wetenskap en Wiskunde aan die Universiteit van Stellenbosch) en HOPE@Maties geval het.  Ook by die geleentheid was twee oudstudente, Nathan Williams en Adrian Samuels, wat hul stories van hoop en uiteindelik akademiese sukses, gedeel het.

Die suksesvolle SciMathUS-program (Science and Mathematics at the University of Stellenbosch) bied talentvolle en belowende matriekleerders uit opvoedkundig-benadeelde omstandighede en wat nie matrikulasievrystelling verwerf het nie of wat nie voldoende presteer het om vir keuringsprogramme toegelaat te word nie, ʼn tweede kans om hul punte in Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde te verbeter.

HOPE@Maties is 'n eerste geleentheid program en berei graad 12-leerders voor op suksesvolle universiteitstudie. In wese is hierdie inisiatief 'n aanvullende onderrigprogram wat leerders met 'n gemiddeld van 70% aan die einde van graad-11 uitnooi om deel te word van die program in hul graad-12 jaar. Die leerders kry dan ekstra lesse by die beste tutors in Wiskunde, Natuur- en Skeikunde en Rekeningkunde.

Vir voormalige SciMathUS-student, Nathan Williams, was die jaarlange program lewensveranderend en het hom op sy pad van sukses geplaas. Williams, 'n boorling van Keimoes in die Noord-Kaap, het gesê die leiding in sy SciMathUS-jaar het hom op sy voorgraadse studies voorberei en hoewel daar tye was toe hy gesukkel met sy akademiese werk in sy eerste jaar as 'n ingenieurswese-student, het hy vasgebyt en ekstra hard gewerk. Vandag is hy 'n meganiese ingenieur in die Wes-Kaapse Regering en maak hy seker dat hy tyd maak om ander studente te help.

Adrian Samuels, op sy beurt, was deel van die HOOP@Maties program. Samuels het sy matriek in 2012 met 'n gemiddelde van 81%  geslaag en het voortgegaan om sy BRek-graad aan die US te voltooi. Hy is tans besig met 'n honneurs-graad in Rekeningkunde en het ook 'n leierskap kursus voltooi om ander student te mentor. Samuels is dalk ook binnekort 'n junior lektor by Maties.

Dr Trevor Louw, direkteur van SUNSEP, het gesê universiteit voorbereidingsprogramme speel 'n deurslaggewende rol om te verseker dat opvoedkundig-benadeelde studente die beste moontlike kans om toegang tot hoër onderwys kry, maar hy het beklemtoon dat sonder befondsing kan hulle nie 'n sukses van hul studies maak nie.

Wil jy graag 'n verskil maak? Kontak gerus development@sun.ac.za om meer uit te vind oor hoe jou organisasie se beurssteun en/of benutting van die nuwe geleenthede in die gewysigde goeiepraktykkodes vir breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging ("BBBEE") ons land se volgende geslag leiers, entrepreneurs en tegniese kenners kan help ontwikkel.

Op die web:

Foto: Hier is Lynthon Jacobs, Adrian Samuels, Anneke Muller, Nathan Williams, Gillian Arendse, Nokwanda Siyengo en Trevor van Louw by 'n geleentheid om die US se vlagskip universiteitsvoorbereidingsprogramme ten toon te stel. (Fotograaf: Marvin Koopman)