Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente baat by nagraadse dae
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 22/09/2016

Nagraadse studente in die Fakulteit Opvoedkunde het al gebaat by vier fokusdae wat in 2016 deur die Fakulteit aangebied is en kan uitsien na nog twee voor die einde van die jaar.

Die doel van hierdie nagraadse dae, sê prof Aslam Fataar, Vise-dekaan: Navorsing in die Fakulteit Opvoedkunde, is om nagraadse studente te help met die verskeie dimensies van tesiswerk.

"Ons dek 'n verskeidenheid onderwerpe: konsepbou en teoretiese toepassing, navorsingsvaardighede soos onderhoudvoering en data-ontleding, tegniese vaardighede soos kritiese lees, ens.

"Die sessies word oor die jaar versprei. Die doel is om 'n ruimte te skep waar nagraadse studente meer kan leer, mekaar kan ondersteun en netwerke kan bou wat hulle in staat stel om momentum vir hul tesiswerk te ontwikkel en vol te hou. Die nagraadse dae versterk in die algemeen alle aspekte van tesiswerk.

"Baie van ons studente is deeltyds en daarom stel hierdie nagraadse dae die universiteit se ondersteuning-infrastruktuur, soos die biblioteek, taaldienste en navorsingsbeplanning, tot hul beskikking," het hy bygevoeg.

Die dae word baie goed bygewoon.

"Gemiddeld 65 studente woon hierdie sessies by. Dit sê vir ons dat die studente geweldig baie baat by dié dae."

PhD-student Jasmine Matope het gevind dat hierdie dae die nagraadse reis minder eensaam maak en gewoonlik nuwe momentum skep en motivering versterk.

"Die sessies skep ook die ruimte om met ander studente en akademici te netwerk."

Jennifer Feldman, nog 'n PhD-student, beaam dit.

"Hierdie sessies skep 'n praktyksgemeenskap vir mense op 'n soortgelyke reis en is veral waardevol vir nagraadse studente wat voltyds werk en maklik geïsoleer kan word.

"Dit gee jou ook nuwe energie vir jou eie navorsingsprojek. Om die waarheid te sê, dit is dom om dit nie by te woon nie!" was haar gevolgtrekking.