Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rektor oor gebeure by die US
Outeur: Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 20/09/2016

Jongste nuus (23 Sept 2016):

Videoboodskap van prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, oor studentegelde, protes op kampus en die belang van die akademiese projek: https://youtu.be/dHmuE3oDK8o 

Vroeëre inskrywing (22 Sept 2016):

 Die onlangse protes by talle hoëronderwysinstellings het opslae gemaak, en die Universiteit Stellenbosch (US) was geen uitsondering nie.

"Ons het ons in die betreurenswaardige posisie bevind waar studente van ons instelling hulle gewend het tot uitgebreide ontwrigting, beskadiging van eiendom en die aanranding van medestudente en personeel. Hierdie dade is onaanvaarbaar en benadeel – eerder as bevoordeel – die edele oogmerk om gehalte-hoëronderwys so toeganklik moontlik te maak."

Só het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, op 20 September 2016 in ʼn e-posbulletin (klik hier) aan studente en personeellede gesê.

"Die ontwrigting van klasse, toetse en ander universiteitsaktiwiteite is onaanvaarbaar. Dit maak inbreuk op die regte van studente om te studeer. Die beskadiging van eiendom en fisieke aanvalle is gewoon onwettig. Die Universiteit neem tans die nodige stappe teen die betrokke studente," het hy bygevoeg.

In ʼn bulletin aan personeellede op 21 September, het die Rektor gesê: "Ons het ferm opgetree om die situasie reg te stel.

"Ons het op 20 September ʼn hofbevel verkry, wat op 30 respondente bedien is om die Wilcocks-gebou te verlaat. Hulle het dit die volgende middag uit eie wil gedoen. Die respondente word verder verbied om enige kampusgebou te beset, die normale aktiwiteite van die Universiteit te ontwrig, ingange na geboue of strate te versper, eiendom te beskadig, of ander persone aan te rand, te intimideer, te bedreig, te teister, te beseer of aan te hou.

En, "op grond van ernstige oortredings is 11 studente tydelik geskors ("suspended" in Engels) hangende die uitslag van dissiplinêre prosesse. Hulle kan teen hierdie besluit appèl aanteken, en dit sal dan deur die Universiteit se Sentrale Dissiplinêre Komitee oorweeg word.

Gesprekvoering met studente

"Ons bly verbind daartoe om met studente in gesprek te tree oor studentegelde en ander kwessies. Die proses word gedryf deur ons Afdeling Studentesake, insluitend die Studentedekaan. Terugvoer op die eise wat aan ons gestel is toe ons op 17 September met die Stellenbosch Fees Must Fall-groep ontmoet het, is op 20 September aan hulle gestuur. Ek voorsien dus nie om hierdie kwessie aan te spreek by 'n massavergadering of ʼn verdere vergadering met die groep nie.

Aanranding

"Ons het met groot kommer kennis geneem van die aanranding van 'n personeellid, in haar 60's, deur studente. Sy is op 20 September aangerand toe sy 'n ander student wat sy met ʼn beursaansoek gehelp het, na 'n geblokkeerde uitgang vergesel het. Die Universiteit se Krisisdiens (selno. 082-557-0880) staan haar met berading by, en sy is na die polisie toe om 'n klag te lê. Berigte van aanranding van studente word ook ondersoek.

"Meld asseblief enige voorvalle by ons noodnommers aan: Stellenbosch-kampus 021-808-2333; Tygerberg-kampus: 021-938-9507.

Rassistiese opmerking

Die Universiteit het ook in ʼn verklaring gesê hy het kennis geneem van sosiale media boodskappe van ʼn rassistiese opmerking deur ʼn student. "Die saak is na die Universiteit se Eenheid vir Gelykwaardigheid verwys om onmiddellik ondersoek te word en sal met die nodige erns wat dit vereis, hanteer word. Rassistiese taalgebruik is onaanvaarbaar – nie net kragtens die Universiteit se Dissiplinêre Kode vir Studente nie, maar ook wat betref die Grondwet van Suid-Afrika."

Akademiese projek

In ʼn boodskap aan alumni op 22 September het die Rektor gesê: "Ons glo dit is noodsaaklik dat die akademiese projek ongehinderd voortgaan. Ons het nie vergeet hoe belangrik dit vir die Universiteit is om goedgekwalifiseerde gegradueerdes te lewer, nuwe kennis te produseer en 'n positiewe impak op die samelewing hê nie.

"Die eindeksamens vir die jaar is om die draai. Ons werk saam om te verseker ons studente voltooi hul kursusse met sukses."

Volg asseblief die US se amptelike sosiale media-kanale, en besoek die blad vir dringende kampus-inligting vir die jongste nuus en skakels na vorige bulletins en relevante artikels.