Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsers, beleidmakers werk saam om verandering in onderwyssektor te bewerkstellig
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 20/09/2016

Daar is verskeie ingrypings wat 'n mens sou kon oorweeg om die ongelykheid in die samelewing aan te spreek, maar die werklike verandering moet in die onderwyssektor plaasvind.

Met hierdie woorde het prof Servaas van der Berg, hoofnavorser by ReSEP en die houer van die Navorsingstoel in die ekonomie van sosiale beleid by die Universiteit Stellenbosch (US), die tweede konferensie oor "Kwantitatiewe toepassings in onderwysnavorsing" Maandag, 19 September, by STIAS geopen.

Die konferensie is georganiseer deur ReSEP, 'n navorsingsgroep wat fokus op sosio-ekonomiese beleid en gesetel is in die Departement Ekonomie by die US, in samewerking met PSPPD (Programme to Support Pro-poor Policy Development ).

Prof Van der Berg het vinnig 'n prentjie van die onderwysstelsel in Suid-Afrika geskets: "Van al die leerders wat skool begin, sal ongeveer 60% matriek bereik, 37% matriek slaag, 4,5% een of ander universiteitskwalifikasie behaal en 3% 'n graad behaal."

Hy het verder verduidelik dat navorsing toon dat 'n persoon met 'n graad minstens ses keer meer sal verdien as 'n persoon wat skool in graad 9 verlaat het.

"Hierdie ongelykheid dryf ons ekonomiese stelsel," het hy bygevoeg. "Dit is hoekom hierdie konferensie so belangrik is – nie net vir die onderwyssektor nie, maar ook vir die breër samelewing."

Die Minister van Basiese Onderwys me Angie Motshekga het vir die tweede jaar agtereenvolgens na Stellenbosch gereis om die konferensie toe te spreek.

"Dit is bemoedigend om te sien dat daar gefokus word op van die dringendste kwessies waarmee die sektor worstel, soos die aanbod van onderwysers en die gehalte van onderwyseropleiding, asook intervensies in terme van geletterdheid en gesyferdheid in die vroeë grade."

Motshekga het melding gemaak van die waardevolle werk wat deur ReSEP gedoen word, asook van die bydraes deur 'n groeiende netwerk mense wat daarop fokus om die uitdagings waardeur die onderwyssektor in Suid-Afrika in die gesig gestaar word, te verstaan, en wat deelneem aan navorsing en debatte rondom hierdie kwessies met die doel om praktiese oplossings te identifiseer.

Sy het 'n paar van die basieseonderwyssektor se suksesse genoem, soos die vordering wat gemaak is in terme van toegang tot onderwys, die matriekslaagsyfer en die getal leerders wat graad R bywoon. Sy het egter ook na uitdagings verwys, soos beperkte toegang tot skole vir leerders in landelike gebiede en die groot getal jong mense wat nie graad 9 voltooi nie.

"Hoewel die getal jong mense wat die nasionale senior sertifikaat behaal, toegeneem het, moet ons verseker dat leerders voldoende voorberei is vir tersiêre onderwys. Ons wil verseker dat die basieseonderwyssektor leerders só kan posisioneer dat hulle geleenthede vir verdere opleiding ten volle kan benut."

Sy het erkenning gegee aan die belangrike werk wat deur navorsers gedoen word. 

"Ons sien al hoe meer hoe navorsing deur beleidskwessies beïnvloed word en beleid deur navorsing. Hierdie konferensie is 'n belangrike voorbeeld van kennis in aksie en ek sien uit na nuwe insigte soos julle jul deel doen om onderwys te verbeter."

Fotokrediet: Anton Jordaan