Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verwelkom finansiële ondersteuning vir arm- en werkersklasfamilies
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 19/09/2016

 

"Ons verwelkom die addisionele finansiële ondersteuning aan arm studente en werkersklas-families (die sogenaamde verlore middelgroep of 'missing middle') ," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), Maandag 19 September, gesê.  

Hy het gereageer op die aankondiging van die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, dr Blade Nzimande vroeër vandag (Maandag 19 September 2016), dat studente uit huishoudings met ʼn jaarlikse inkomste van minder as R122 000 per jaar steeds sal kwalifiseer vir befondsing van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (National Student Financial Aid Scheme oftewel NSFAS), waarby 'n verhoging van tot 8% vir die 2017 akademiese jaar ingesluit sal wees. Die Minister het ook aangekondig dat studente uit huishoudings in die inkomstegroep R122 000 tot R600 000 per jaar ʼn oorbruggingsbefondsingbeurs van die regering sal ontvang om te verseker dat hulle in 2017 dieselfde onderriggelde as in 2015 sal betaal.

"In beginsel ondersteun ons fooi-vrye hoër onderwys vir arm studente ten volle. Dit sou die ideaal wees vir al ons studente, maar aangesien dit nie haalbaar is in die huidige ekonomiese klimaat sonder ʼn substansiële styging in die regeringsubsidie nie, benodig universiteite steeds koste-deling tussen regeringsubsidies en onderriggelde van dié wat hoër onderwys kan bekostig."

Die US stel ʼn gedifferensieerde beursmodel voor volgens ʼn glyskaal in ooreenstemming met die jaarlikse huishoudelike inkomste van ʼn student se familie (volgens die middeletoets):

  • In 2017, vir diegene met ʼn huishoudelike inkomste van minder as R122 000 per jaar, sal voldoende NSFAS-befondsing verskaf word om die 8%-verhoging in te sluit.
  • Vir die inkomstegroep R112 000 tot R240 000 per jaar bied die US beurse vir alle akademies verdienstelike studente.
  • Vir die inkomstegroep R240 000 tot R600 000 bied die US tans gevarieerde finansiële ondersteuning aan akademies verdienstelike studente met die regering se oorbruggingsbefondsing  ter waarde van die verskil tussen die 2015- en die 2017-onderriggelde.
  • Die US glo dat die addisionele regeringsbefondsing en die US se bestaande beursmodel wat 'n totaal van R658 miljoen beloop, die oorgrote meerderheid van die verlore middelgroep van hulp sal kan wees.

"Ons ondersteun die sektorale benadering van ʼn voorgestelde 8%-verhoging in onderriggelde vir 2017. Die styging in inkomste sal die US in staat stel om steeds beurse aan finansieel behoeftige, akademies verdienstelike studente te bied. Ons finansiële steun aan studente beloop meer as 50% van ons jaarlikse inkomste uit studentegelde. Die begroting sal nou aangepas word vir oorweging en goedkeuring deur die Universiteitsraad. Akademies verdienstelike studente mag nie op grond van finansiële oorwegings uitgesluit word nie," het prof De Villiers gesê.

"Ons verwelkom ook die regering se verbintenis om befondsingsmodelle verder te ondersoek om moontlik addisionele finansiële ondersteuning aan die verlore middelgroep in te sluit.  

Lees meer: