Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Smiling lightning' wen tweede goue medalje
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 16/09/2016

​"Hy hou net nie op glimlag nie," het 'n TV-kommentator Vrydagmiddag opgemerk toe die Maties Parasport-atleet Charl du Toit sy tweede goue medalje by die Paralimpiese Spele in Rio gewen het.

Charl, wat besig is met sy honneursgraad in onderwysbestuur by die Universiteit Stellenbosch, het die naweek se goue medalje en wêreldrekord in die 100m (T37) opgevolg met 'n goue medalje en 'n Paralimpiese rekord in die 400m (T37) op Vrydag, 16 September.

En die groot glimlag op sy gesig het nie ongemerk verbygegaan nie. Hy het ná die wedloop in 'n onderhoud wat deur SpanSA geplaas is, verduidelik: "Ek is bevoorreg genoeg om deel van 'n wonderlike oefengroep te wees saam met van die beste atlete in die wêreld, en aan die begin van die jaar moes ons elkeen 'n tema vir die jaar identifiseer.

"Myne was 'Smiling lightning'. Ek wou net hardloop en elke sekonde geniet – dit geniet met die Here in my hart."

Charl het bygevoeg dat elke atleet graag die beste wil wees wat hy/sy kan wees en dat hy baie dankbaar is: "Ek het nooit in my wildste drome gedink ek sou dit doen nie (twee goue medaljes wen nie). Ek sien uit na die pad vorentoe."

Dit was 'n uitstekende week vir die Maties Parasport-klub. Nadat hulle Sondag drie medaljes gewen het – goud (Charl), silwer (Ilse Hayes) en brons (Fanie van der Merwe) (lees meer hier), het Maties Parasport-atlete nog ses medaljes deur die loop van die week gewen.

Suid-Afrika se bekende Paralimpiese atleet Ernst van Dyk het goud gewen in die padresies (handfietsry – H5), terwyl Reinhardt Hamman, wat aan sy eerste Paralimpiese Spele deelneem, goud gewen het in die spiesgooi (T38).

Charl se oefenmaats Anruné Liebenberg en Dyan Buis het onderskeidelik silwer en brons gewen – Anruné silwer in die 400m (T47) en Dyan brons in die verspring (T38). Hulle is almal studente in die Fakulteit Opvoedkunde. 

En sestien jaar nadat sy haar eerste medalje by 'n Paralimpiese Spele gewen het, het die rolstoelatleet Zanele Situ dit weer gedoen. Sy het brons gewen in die spiesgooi (F54) met 'n persoonlike beste afstand van 17.90m.

Dyan het Vrydag gekwalifiseer vir die finaal van die 400m (T38) wat Saterdag plaasvind, terwyl silwermedaljewenner Ilse Hayes aan die 400m (T13) sal deelneem. Ernst van Dyk sal ook nog een keer te sien wees in die rolstoelmarathon wat Sondag plaasvind.