Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US enigste SA universiteit wat opskuif op wêreldranglys
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 12/09/2016

Die US, een van die voorste navorsingsgedrewe universiteite in die land, is die enigste instelling van Suid-Afrika wat sy plek verbeter het op die QS-wêrelduniversiteitsranglys 2016/17, wat in die tweede week van September vrygestel is.

Quacquarelli Symonds (QS) plaas Maties in die 395ste plek nadat dit in 2015 onder die kategorie 401-410 geval het.

Die Universiteit van Kaapstad het tot plek nommer 191 teruggeval en Wits tot 359. Die Universiteit van Pretoria en Rhodes-universiteit het albei van kategorie 501-550 tot 551-600 teruggesak en die Universiteit van KwaZulu-Natal maak nou deel uit van die kategorie 651-700 nadat dit 'n jaar gelede by 551-600 ingesluit was.

Nuwelinge op die QS-ranglys is die Universiteit van Wes-Kaapland en Noordwes-Universiteit – albei in die kategorie 701+.

Die US se siening oor ranglyste is steeds dat akademiese uitnemendheid ononderhandelbaar is; dat gehalte eerste geplaas word en dat daar nie gepoog word om enige ranglys kunsmatig te beïnvloed nie.

Die US is in dekking oor die QS-wêrelduniversiteitsranglys 2016/17 genoem. Berigte sluit in SA's universities slide down global rankings (Business Day Live), Are South Africa's universities on the slippery slope? (Rand Daily Mail), Funding clamp hurts top SA universities' reputations internationally (Times Live) en South African universities struggle in global ranking as fee debate begins to bite (Business Tech).

ʼn Aantal van die mediaberigte het ʼn verband gelê tussen Suid-Afrikaanse universiteite se swakker vertoning op die ranglyste en die huidige onstuimigheid in hoër onderwys in die land.