Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vroue ingenieurs kan kosbare probleem oplossers wees
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 24/08/2016

Jy kan 'n 'kosbare probleem oplosser' wees as jy 'n ingenieur word. Dít was die hooftema van sprekers by die Vroue in Ingenieurswese middag wat in Augustus deur die Fakulteit Ingenieurswese, Universiteit Stellenbosch, aangebied is.

Ongeveer 250 Graad 10 tot 12 dogters van die Kaapse Skiereiland, die Boland en die Weskus het die jaarlikse geleentheid bygewoon wat daarop gemik is om Ingenieurswese as uitstekende loopbaankeuse vir vroue te bevorder.

Taskeen Ebrahim, 'n eerstejaar Matie Ingenieurstudent, het die gehoor vertel dat sy Ingenieurswese as studieveld gekies het omdat dit "jou intellektuele vermoë en jou praktiese kennis verbeter en jou vaardighede dienooreenkomstig uitbrei. Jy word 'n probleem oplosser. Die hoofrede waarom ek die loopbaan gekies het, is dat dit my toerus om 'n verskil te maak. Ingenieurs kan die wêreld verander. Elke innovasie waaraan jy as ingenieur 'n aandeel het, kan die lewe makliker maak vir 'n ander persoon, 'n ander dier, of selfs vir die omgewing."

Hierdie gedagte is ook beklemtoon deur dr Margreth Tadi, 'n dosent by die Departement Prosesingenieurswese. "Goud verander ekonomieë; Ingenieurs verander mense se lewe ten goede. Julle is lewende goud en behoort te volhard daarmee om 'n impak op die gemeenskap en die wêreld rondom julle te maak."

Om Ingenieurswese te studeer, vereis harde werk, deursettingsvermoë en toewyding. Dit beteken egter nie dat jy nie 'n sosiale lewe tydens jou studieloopbaan kan hê nie, reken Maretha Bester, 'n finalejaar Ingenieurstudent. Sy het ook die belang van 'n goeie balans tussen werk en speel beklemtoon: "Solank jy nie te lief vir slaap is nie, is daar geen rede waarom jy as Ingenieurstudent nie lekker lawwe herinneringe op Stellenbosch kan versamel nie!"

Hooffoto:

Dr Margreth Tadi, Taskeen Ebrahim en Maretha Bester.