Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​ US‑satelliet gereed vir lansering vanuit Internasionale Ruimtestasie
Outeur: Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
Gepubliseer: 23/08/2016

ʼn Nanosatelliet wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) en CubeSpace, ʼn Innovus inkubasie-maatskappy in die Nedbank Universiteit Stellenbosch LaunchLab besigheidsinkubator, ontwikkel is, word in Januarie 2017 saam met 49 ander nanosatelliete vanuit die  Internasionale Ruimtestasie (ISS) gelanseer.

Dié Suid-Afrikaanse nanosatelliet, ZA-AeroSat, weeg slegs 2 kg en is die enigste satelliet uit Afrika wat deel vorm van ʼn internasionale projek, die QB50‑projek, om 50 nanosatelliete bekend as "CubeSats" – elk ongeveer 10cm x 10cm x 20cm groot (kleiner as ʼn skoendoos) te lanseer vanuit die ISS om metings van die laer termosfeer tussen 200 km en 400 km bo die aarde, in te samel.

ZA-AeroSat word eersdaags na Delft in Nederland geneem waar dit saam met die ander satelliete verpak sal word voordat dit na die VSA verskeep word vir lansering na die ISS in Desember vanjaar.

Die Elektroniese Stelselslaboratorium (ESL) in die US se Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese en CubeSpace, wat uit die ESL ontstaan het, werk reeds ʼn geruime tyd aan dié plaaslike nanosatelliet.  

 

Innovasie by die Universiteit Stellenbosch: CubeSpace wetenskaplike Gerhard Janse van Vuuren en prof. Herman Steyn bespreek die projek.

Navorsingsprogram

Die projek is deel van die Europese Ruimteagentskap (ESA) se atmosferiese modelleringsnavorsing om beter voorspellings te maak oor wat met ruimte-objekte gebeur wanneer dit die aarde se atmosfeer binnedring.

Aangesien die ESL, en meer onlangs ook CubeSpace, reeds wye internasionale erkenning op die gebied van innoverende klein-satellietoriëntasiebeheerstelsels geniet, is hulle ook gevra om 15 beheereenhede ("Attitude Determination and Control System" – ADCS – oftewel Oriëntasiebepaling‑en‑Beheerstelsel bondels) aan ander satelliete in die QB50‑projek te lewer, sê prof Herman Steyn, wat aan die hoof van die projek staan en ook die stigter van CubeSpace is.

"Hulle verleen dus hulp waar ander deelnemers onvoldoende ervaring in satellietbeheerstelsels het, aangesien dit ʼn baie groot uitdaging is om ʼn satelliet deurgaans binne 10 grade van die wentelbaanrigting te hou," verduidelik hy.

Die 15 beheereenhede (QB50‑oriëntasiebepaling‑en‑beheerstelsel‑bondels) is volledig binne die ESL ontwikkel en is saam met van die beheerstelselsagteware wat die Surrey Space Centre in Engeland help ontwikkel het, aan die Von Karman Instituut vir Vloeidinamika (VKI) in België afgelewer, vir verspreiding aan ander geselekteerde projekdeelnemers.  Die eerste drie beheereenhede is alreeds in 2014 aan die ISIS‑satellietmaatskappy in Nederland gelewer, wat in Mei 2014 twee voorloper‑QB50‑satelliete as ʼn toetslopie voor die QB50‑missie gelanseer het.  Hierdie beheereenhede werk nou alreeds vir meer as 2 jaar suksesvol in die ruimte op die voorloper satelliete.

Die befondsing hiervoor ontvang het dit moontlik gemaak om Afrika se enigste satelliet vir die QB50-projek te lewer. Die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT) was betrokke by die ontwikkeling van die satelliet se kommunikasie modules.

Steyn sê ZA-AeroSat sal ook gebruik word om vir die eerste keer aërodinamiese stabilisering van ʼn satelliet prakties te demonstreer. "Die antennas aan die agterkant van die satelliet sal gebruik word soortgelyk aan die vere van ʼn pluimbal om die satelliet gedeeltelik passief te stabiliseer," verduidelik hy. "Dít word moontlik gemaak deur die groter atmosferiese digtheid in die lae wentelbaanhoogtes van QB50."

ESL/CubeSpace het ZA-AeroSat se aanboordrekenaar (CubeComputer) en die oriëntasiebeheerstelsel (CubeSense en CubeControl) plaaslik ontwikkel vir ruimtegebruik (sien Figuur 2 hieronder). Hierdie CubeSat‑komponente word ook tans internasionaal aanlyn in die CubeSatShop (skakel), asook in Innovus se aanlyn satellietkomponentwinkel (skakel), verkoop.  As ʼn eksperiment sal ʼn nuut ontwikkelde sterkamera satellietsensor (CubeStar) wat slegs 80 gram weeg, gevlieg word om dit vir ruimtegebruik te kwalifiseer.  ʼn Verdere eksperiment is ʼn gravitasiegolfsensor om te toets of gravitasiegolf steurings, wat byvoorbeeld veroorsaak word deur die son en maan se posisie relatief tot die aarde, bepaal kan word.

  • Innovus is die Universiteit Stellenbosch se tegnologie-oordragmaatskappy