Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die Matie vier 75 jaar
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 22/08/2016

Die Matie, die Universiteit Stellenbosch (US) se studentekoerant, vier die maand sy 75ste bestaansjaar. Met die eerste uitgawe wat op 1 Augustus 1941 verskyn het, is Die Matie een van die oudste studentekoerante in die land.

'n Privaatfunksie is op Sondag 21 Augustus in Stellenbosch gehou om die geleentheid te vier. Nagenoeg 150 voormalige redaksielede het die funksie by Nooitgedacht-wynlandgoed bygewoon. Sprekers en gaste het die redakteur van 1946, Gerhard Roux ingesluit, asook Die Matie se eerste vroueredakteur, Corinne Oosthuizen en Naspers-voorsitter Koos Bekker, redakteur van Die Matie in 1975. 

Matie75 Foto NARDUS ENGELBRECHT 18_Group.jpg

Van links na regs: Voormalige redakteurs Koos Bekker en Gerhard Roux, langs die huidige redakteur, Eugenie Gregan. Foto: Nardus Engelbrecht.

'n Spesiale gedenkuitgawe van Die Matie verskyn vandag (22 Augustus), en bied 'n blik op verskeie mylpale in die koerant se geskiedenis asook historiese gebeurtenisse op kampus en die wyer Suid-Afrikaanse samelewing.

"Die Matie roer ons sake!" sê prof Wim de Villiers, US-Rektor en Visekanselier, in sy gelukwensingsboodskap in die gedenkuitgawe. "Gereeld is die kritiek fel, die debat witwarm en die eise hoog. Maar dis hoe dit moet wees met 'n studentekoerant. Die Matie moet die Bestuur, die Studenteraad, personeel en studente op hul tone hou. Dit moet 'n spieël ophou vir ieder en elk op kampus – al hou jy nie altyd van dit wat daaruit vir jou terug loer nie."

"'n Vrye, onafhanklike media is een van die belangrikste hoekstene van 'n demokrasie - en dit geld ook vir studentemedia," sê Eugenie Gregan, huidige redakteur van Die Matie, in haar kommentaar oor die rol van Die Matie in die verlede en in die toekoms. "Die Matie moet 'n stem vir alle studente op kampus wees en altyd sy pols op die Stellenbosse studentelewe hê."

"Die Matie was nog altyd vreesloos," het Gregan bygevoeg in haar redakteursbrief wat in die gedenkuitgawe verskyn. "Ten spyte van die nagevolge, streef die koerant altyd na persvryheid, integriteit en verantwoordelikheid. Daarom is dit 'n trotse prestasie om 75 goue jare te vier."

Matie75 Foto NARDUS ENGELBRECHT 15_Redaksie.jpg

Die huidige redaksie van Die Matie met spesiale gedenkuitgawes van die koerant. Foto: Nardus Engelbrecht.