Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Akademiese jaardag vier 60 jaar van uitnemendheid
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 12/08/2016

​Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) se 60ste Akademiese Jaardag was 'n tentoonstelling van die fakulteit se nuutste navorsing asook 'n viering van die baanbrekersnavorsing wat oor die afgelope 60 jaar by die instansie gedoen is.

"Vanjaar se Akademiese Jaardag is 'n baie spesiale geleentheid vir ons aangesien dit ons 60ste jaarlike navorsingsdag is, wat saamval met die 60ste verjaardagvieringe van die Fakulteit," het prof Nico Gey van Pittius, Visedekaan: Navorsing aan die FGGW gesê.

"Die 60ste Akademiese Jaardag is 'n tyd vir besinning oor wat ons bereik het: ons geweldige groei en uitsette; die groot bydrae wat ons navorsing oor baie jare tot die wetenskap en die samelewing gemaak het; en die impak daarvan op die regering, maatskaplike, ekonomiese en omgewingskwessies."

'n Groot verskeidenheid navoring is aangebied deur die 106 mondelinge, en 129 plakkaataanbiedings wat deur die loop van die dag plaasgevind het.

Tydens die Dekaansrede het prof Jimmy Volmink hulde gebring aan die FGGW se staatmaker-navorsers wat die sterk akademiese grondslag gelê het waarop die fakulteit vandag steeds sy suksesse bou. Onder diegene wat hy uitgesonder het was prof Andries Brink, 'n voormalige dekaan, wat "die stryd vir navorsing voortgesit het" in die tydperk voor demokrasie, en prof Amanda Lochner, wat 'n sterk vrouenavorser was in 'n era waartydens die veld deur mans gedomineer is. Hy het ook twee ander voormalige dekane, proff Jan Lochner en Wynand van der Merwe, se lof besing vir hul visionêre leierskap.

Volmink het van die belangrike navorsing uitgelig wat gedurende die afgelope 60 jaar by die fakulteit gedoen is wat 'n impak maak het op mediese praktyk en beleid oor die wêreld. Hy het veral klem gelê op die baanbrekerswerk deur die span TB-navorsers:  proff Paul van Helden, Nulda Beyers, Peter Donald, Robert Gie en Simon Schaaf. "Hulle is van die top TB-navorsers in die wêreld, en hulle het die grondslag gelê vir wat vandag die sterkste TB-navoringspan in Afrika is," het Volmink gesê.

Hy het hulle sukses toegeskryf aan die feit dat hulle "'n groot visie gehad het en bereid wat om oor dissiplines heen te werk" aangesien hulle projekte gereeld samewerking vereis het van navorsers, klinici en selfs gemeenskappe.

Die gassprekeer, prof Bongani Mayosi, die aangewese dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe van die Universiteit van Kaapstad, het ook die belangrikheid van samewerking tussen wetenskaplike vakgebiede, asook instansies, beklemtoon.

Hy het die toename in navorsingsuitsette op die Afrika-kontinent oor die afgelope twee dekades geillustreer en het die gehoor aangespoor om geleenthede vir navorsing samewerking in Afrika na te jaag.