Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Besoekende studente doen waardevolle ervaring op in SA skole
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 11/08/2016

'n Groep studente van die Universiteit van Noord-Carolina se Charlotte-kampus (UNCC) het die Universiteit Stellenbosch (US) onlangs besoek om meer te leer oor Suid-Afrika se onderwysstelsel en om praktiese ondervinding in 'n ander konteks as wat hulle ken, op te doen.

Dit is die derde groep van UNCC wat Suid-Afrika besoek en organiseerders hoop dat die verhouding tussen UNCC en US binnekort in 'n uitruilprogram sal ontwikkel, met US-studente wat Noord-Carolina moontlik so vroeg as volgende jaar sal besoek.

Die besoeke is die gevolg van samewerking tussen prof Chris Reddy en prof Peter Beets van die US en dr Mike Putman van UNCC. Die US se dr Louise Botha het gedurende haar tyd as Fulbright-beurshouer by UNCC in 2015 betrokke geraak en dit is toe dat besprekings oor 'n moontlike uitruilprogram momentum gekry het.

"Internasionale blootstelling is baie waardevol in vandag se tye. Dit verbreed die studente se kennis en begrip van ander kulture en kontekste en bied hulle die geleentheid om uit te vind waarom ander mense doen wat hulle doen, en wat hulle goed doen," sê dr Botha.

Die UNCC-studente het die meeste van hul tyd by Laerskool AF Louw sowel as Idasvallei Primêr deurgebring, en het ook Laerskool Rhenish besoek.

Tydens die terugvoeringsessie het hulle twee dinge geïdentifiseer wat die grootste indruk op hulle gemaak het: Die uitdagings wat voortspruit uit die veeltalige en multikulturele samestelling van klasse sowel as die uitdagings waardeur onderwysers in die gesig gestaar word in skole met 'n tekort aan hulpbronne (skole in die laer kwintiele).

Hulle het hul tyd hier as ongelooflik beskryf en gesê hulle het baie geleer. "Dit was definitief die moeite werd," het hulle bygevoeg.

Dit is nie net die studente wat by hierdie besoeke baat nie – dit het ook geleenthede vir akademici geskep om saam te werk en om die veld van onderwyseronderrig te bespreek.

"Ons werk aan gesamentlike idees vir konferensie-aanbiedings en publikasie- en navorsingidees. Dit sluit in vergelykende standpunte oor onderwyseronderrigbeleid en -praktyke by die US en UNCC. Dr Putnam het alreeds 'n konferensie-aanbieding gedoen oor 'n referaat waarvan ek en dr Beets die mede-outeurs was," het prof Reddy gesê.