Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit onthul nuwe logo as deel van 60ste vieringe
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 18/07/2016

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het vandag as deel van die vieringe vir sy 60ste herdenking 'n nuwe logo onthul.

Prof Jimmy Volmink, Dekaan, het gesê die nuwe logo weerspieël die fakulteit se wortels en tradisies, en dui terselfdertyd 'n gedeelde toekoms aan. Hy het personeel, studente, alumni en ander belanghebbendes uitgenooi om deel te wees van die skryf van die fakulteit se storie anderkant 2016.

"Die FGGW het in 1956 'n nederige totstandkoming gehad op die terrein van die Karl Bremer-hospitaal en het vandaar gegroei na 'n instelling wat bekend is vir die opleiding van uitmuntende gesondheidswerkers en innoverende navorsing wat van die mees dwingende kwessies in ons samelewing aanspreek. Hierdie suksesse is gebou op baie mense se visionêre leierskap, toewyding en harde werk oor 'n aantal dekades," het Volmink gesê.

Daar word soms na Tygerberg verwys as die 'Kampus van Kampioene' omdat die personeel en studente uitblink in aktiwiteite op só baie terreine, van die akademie tot sport, kuns en kultuur.

"Ons is ook bekend as 'n gemeenskap van individue wat omgee vir mekaar en die samelewing. Ons unieke FGGW Fonds is 'n inisiatief wat beurse en lenings beskikbaarstel aan suksesvolle studente wat finansieel behoeftig is, en nie kwalifiseer vir finansiële ondersteuning uit ander bronne nie (vir meer inligting, besoek www.sun.ac.za/FGGWfonds). Ons sal ons strewe voortsit om leiers en agente vir verandering te kweek wat 'n verskil in Suid-Afrika en die wêreld maak," het Volmink gesê.

Besoek gerus www.sun.ac.za/FGGW60 om meer oor die nuwe logo te sien en op hoogte te bly van aktiwiteite en nuus. Inligting word ook gereeld gedeel op sosiale media.

    www.facebook.com/suhealthsci

•    Instagram: @suhealthsci

•    Twitter: @suhealthsci

Indien u herinneringe, staaltjies of foto's wil deel is u welkom om 'n e-pos te stuur aan fmhs60@sun.ac.za of dit via sosiale media te deel met die hutsteken #mytygermaties60.