Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale span wil uitsterwings verhoed
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 15/07/2016

​Wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch gaan saam met navorsers van Conservation International (CI) en vyf ander top universiteite wêreldwyd werk om die verskuiwing van spesies en ekosisteme weens klimaatsverandering te modeleer.

Die projek SPARC (Spatial Planning for Protected Areas in Response to Climate Change) sal 'n groot data-benadering volg om vir doeltreffende bewaring in die komende dekades te beplan. Die response op klimaatsverandering van meer as 100 000 spesies in die drie mees biodiversiteitsryke tropiese gebiede – Suid-Amerika, Sub-Sahara Afrika en Suidoos Asië sal gemodelleer word.

Prof. Guy Midgley en Dr Wendy Foden, verbonde aan die US se Departement Plant- en Dierkunde, is die hoofnavorsers vir Sub-Sahara Afrika op die projek. Dié drie-jaar lange projek word deur die Global Environmental Facility (GEF) gefinansier. GEF is 'n multi-nasionale fonds wat omgewingsprobleme van internasionale omvang aanspreek.

Die ander universiteit betrokke by die projek is die Universiteit van Arizona (VSA), Leeds Universiteit (VK), die Katolieke Universiteit van Chile (Chile) en Xishuangbanna Tropiese Botaniese Tuine (China). Volgens 'n mediaverklaring wat deur Conservation International uitgereik is, is wêreldbekende navorsers soos Richard Leakey van die Stonybrook Universiteit (VSA) en Carlos Nobre van CAPES in Brasilië lede van die paneel wat leiding aan die projek sal gee. Hulle sal help met die ontwikkeling van die nuutste metodes vir groot data-insameling, modellering en analise.

Vir meer inligting, gaan na http://www.conservation.org/NewsRoom/Pages/Newsroom.aspx

Foto: © Jon McCormack/Elephants talking in the Okavango Delta, Botswana, Chitabe Camp.