Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die toepaslikheid van die vakkundigheid van verpleegkunde
Outeur: Mandi Barnard
Gepubliseer: 24/06/2016

Die toenemende groei in navorsing deur die Afdeling Verpleegkunde is ten toon gestel by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) tydens die Navorsingsdag vir Verpleegkunde en Verloskunde op Dinsdag, 21 Junie 2016. Die tema, "60 jaar van vakkundigheid", het aangesluit by die FGGW se 60ste herdenking wat vanjaar gevier word.

Prof Anita van der Merwe, die Hoof van die Afdeling Verpleegkunde, het gesê die kwaliteit van die afdeling se navorsingsuitsette is uiters belangrik. Die afdeling vorder goed met die opleiding van verpleegkundiges en vroedvroue wat op Meesters- en PhD-vlak opgelei is. "Ons is trots op ons verpleegkundiges en vroedvroue wat onder moeilike omstandighede hoë standaarde in akademiese aktiwiteite handhaaf wat uiteindelik tot voordeel van die pasiënte en studente sal strek."

Volgens prof Ethelwynn Stellenberg, ʼn medeprofessor in Verpleegkunde, is die afdeling se navorsingsprojekte gefokus op gesondheidsverwante sake sodat dit toepaslik is in die praktyk. "Navorsing moet 'n wetenskaplike grondslag vir pasiëntsorg voorsien en moet verkieslik op gereelde basis deur alle verpleegkundiges gebruik word. Dit moet toegepas word om resultate vir pasiënte te verbeter en die gesondheid en welsyn van gemeenskappe te bevorder, veral vir die mees kwesbare bevolkings."

Prof Usuf Chikte, die Uitvoerende Hoof van die Departement van Interdissiplinêre Gesondheidswetenskappe, het die rol van verpleegkunde in gesondheidsorg en die huidige stand van verpleegkundige opleiding in Suid-Afrika bespreek. Hy het gesê daar is ʼn universele krisis in die gesondheidswerkerskorps, veral binne verpleegkunde, wat gekenmerk word deur kritiese tekorte, ongebalanseerde vaardighede en migrasie.

"Daar is ongelukkig ook ʼn ongelyke geografiese verspreiding van gesondheidspraktisyns en onvoldoende vooruitgang met die verbetering van moeder- en kindergesondheid in Suid-Afrika.

"Verpleegkundiges vorm die grootste enkele groep gesondheidsorgpraktisyns in enige land, insluitend Suid-Afrika, en hulle speel ʼn sentrale rol in die toeganklikheid van gesondheidsorg vir die grootste deel van die bevolking.

"Die voorgestelde voorgraadse verpleegkunde program aan die US sal ʼn beduidende bydrae lewer tot die kwaliteit van verpleegkundige opleiding in Suid-Afrika vir veilige, bewysgebaseerde en pasiëntgedrewe sorg.

"Goeie bestuur en gesonde verhoudings met die Wes-Kaapse Provinsiale Regering is noodsaaklik vir onderrig en opleiding in gesondheidsorg aan die US wat van baie hoë gehalte is.

"Daar was die afgelope dekade wesenlike groei in nagraadse opleiding en navorsing in die Afdeling Verpleegkunde. Die afdeling bied voortreflike gehalte in terme van gesondheidsorgopleiding," het Chikte gesê.

Mnr Tendani Mabuda, die nuutaangestelde Direkteur van Verpleegdienste in die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, het die belangrikheid beklemtoon van navorsing om die vrae te beantwoord wat geopper word in die konteks van veranderings in verpleegkundige opleiding.

Mabuda het gesê die verhouding tussen die aantal verpleegkundiges en pasiënte in Suid-Afrika is heelwat laer as die teikens wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aanbeveel word. "Ons het uit navorsing bewyse nodig oor wat die beste praktyke is om toe te pas en hoe om kostedoeltreffende veranderings, soos byvoorbeeld taakverdeling, aan te bring. Ons moet terselfdertyd tekortkomings aanspreek en steeds verseker dat dienslewering van ʼn hoë gehalte is en die veiligheid van pasiënte verseker word."

"Alhoewel ons hierdie tekortkominge as ʼn saak van dringendheid moet aanspreek, is dit belangrik om studente te werf wat ʼn passie vir verpleegkunde het. Die kwaliteit, eerder as die kwantiteit, van graduandi is belangrik," het Mabuda gesê.

 

Foto: Van links na regs, prof Usuf Chikte, Uitvoerende Hoof van die Departement van Interdissiplinêre Gesondheidswetenskappe; prof Anita van der Merwe, Hoof van die Afdeling Verpleegkunde; mnr Tendani Mabuda, Direkteur van Verpleegdienste, Wes-Kaapse Departement van Gesondheid; prof Ethelwynn Stellenberg, medeprofessor in Verpleegkunde; en dr Sabela Petros, Adjunkdirekteur van Gesondheidsnavorsing, Wes-Kaapse Departement van Gesondheid.