Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Du Toit breek wêreldrekord in Switserland
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 31/05/2016

​Die Maties Parasport-atleet en onderwysstudent Charl du Toit het 'n droomnaweek op die baan beleef toe hy die wêreldrekord in die 100m (T37) gebreek het by die IPC Atletiek Grand Prix-kompetisie wat van 27-​​29 Mei in Nottwill, Switserland, aangebied is.

Hy het die vorige rekord (11.46s), wat gesamentlik deur sy oefenmaat en mede-Suid-Afrikaner Fanie van der Merwe en die Rus Andrey Vdovin gehou is, met 0.03s verbeter.

Hy het ook 'n persoonlike beste tyd van 51.12s in die 400m gehardloop en 'n nuwe Afrika-rekord opgestel.

"Dit was definitief een van die beste dae wat ek al ooit op die atletiekbaan beleef het," het Du Toit gesê.

"Ek dink nie dit het al ingesink nie. Ek was geskok toe ek oor die wenstreep gaan en die tyd sien, en terselfder​​tyd ook baie dankbaar.

"My fokus is hoofsaaklik op die 400m, maar ek het geweet enigiets is moontlik op die baan."

Hy het sy sukses toegeskryf aan die familie-omgewing wat sy afrigter, dr Suzanne Ferreira, vir hom en sy oefenmaats, wat atlete soos Van der Merwe, Ilse Hayes, Arnu Fourie en Dyan Buis insluit, geskep het.

"Ek dink nie ek kon vir 'n beter ondersteuningspan gevra het nie."

Du Toit het ook vir Sean Surmon, sy kondisioneringsafrigter, en Tanya Green, sy fisioterapeut, bedank.

Daar was ook ​goeie vertonings deur Maties Parasport se Reinhardt Hamman in die spiesgooi (T38) wat daarin geslaag het om die 50m-kerf te oortref (50.01m), Arnu Fourie (T44) in die 100m (11.06s) en 200m (22.45s – 'n nuwe Afrika-rekord), Dyan Buis (T38) in die 100m (11.66s) en 400m (50.81s – 'n persoonlike beste tyd), Fanie van der Merwe (T37) in die 100m (11.66s) en Ilse Hayes (T13) in die 100m (12.09s) en 200m (25.12s).​