Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Leierskap in Onderwys-kortkursus bekendgestel
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 25/05/2016

Die Fakulteit Opvoedkunde in samewerking met die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapontwikkeling (FVZS Leierskapinstituut) het onlangs die Leierskap in Onderwys-kortkursus bekendgestel.

'n Groep van 40 studente het vir die kursus geregistreer. Dié kursus sal onderwerpe soos "Alternatiewe leermodelle", "Onderwysers as agente van sosiale verandering", "Diversiteit en inklusiwiteit in onderwys"; "Taal en onderwys" en "Onderrig om die Suid-Afrikaanse samelewing te transformeer" behandel.

Die kursus is ontwerp nadat die fakulteit se studentekomitee – onder leiding van die voorsitter Mkululi (MK) Nompumza – die FVZS Leierskapinstituut genader het met 'n behoefte vir só 'n kursus.

"Die hoofdoelwit van die kursus is om aan voornemende onderwysers te wys dat hulle leiers in hul omgewings kan wees al beklee hulle nie amptelike leierskapposisies nie."

MK hoop dat deur beter onderwysers en beter Suid-Afrikaners te word hierdie onderwysers 'n voorbeeld sal stel en rolmodelle vir die volgende generasie sal wees.

Dr Leslie van Rooi, Hoof van die FVZS Leierskapinstituut, het gesê hulle het die studente se versoek verwelkom en moedig ander fakulteite aan om hulle te nader met inisiatiewe wat sal bydra tot studente se ko-kurrikulêre ervaring aan die Universiteit Stellenbosch.

Hierdie kursus stem ooreen met die US se visie en sal bydra tot die ontwikkeling van die graduandi-kenmerke wat deur die fakulteit geïdentifiseer is, het hy bygevoeg.

Programbestuurder Reneé Hector-Kannemeyer het gesê dit is nodig om krities oor onderwys en die huidige onderwysstelsel in Suid-Afrika te wees en dat die Leierskap in Onderwys-kursus – soos met alle kursusse wat deur die FVZS Leierskapinstituut aangebied word – ten doel het dat studente bewuste akteurs in die wêreld moet wees.

"Dit gaan oor die begin van 'n nuwe denkbeweging, die aanvuur van nuwe maniere om te reageer op waar ons as 'n nasie en 'n kontinent is en om ons verbeelding oor wat Suid-Afrika kan wees, weer te laat opvlam," het sy bygevoeg.

Die kursus is afgeskop met Newberry House Montessori Skool as gasheerfasiliteerders. Hulle het studente uitgedaag om alternatiewe onderwysmodelle te verken.

Die doel van die kortkursus is dat deelnemers insig verkry in die leierskaprol wat voornemende onderwysers en onderwysers in praktyk kan speel ten opsigte van verskeie aspekte van Suid-Afrikaanse skole. Deelnemers sal ook sekere temaverwante aspekte van Suid-Afrikaanse skole gedurende hul praktiese proeftydperk bestudeer, en deelneem aan gefasiliteerde groepbesprekings oor hierdie aspekte wanneer hulle ná hul praktiese proeftydperk terugkeer universiteit toe.